Stank lei tot donkievelle-vonds

'n Polisiebeampte by die donkievelle.

‘n Polisiebeampte by die donkievelle.

Donkievelle ter waarde van miljoene rande is op ʼn kleinhoewe in die Brandvlei-omgewing buite Randfontein aan die Wes-Rand opgespoor.

Die polisie het Maandag in ʼn verklaring gesê die vonds is tydens ʼn intelligensiegedrewe operasie deur die veediefstal- en nasionale misdaadintelligensie-eenheid gemaak.

“Die polisie het ʼn wenk ontvang rakende ʼn oorweldigende stank uit ʼn stoorkamer op die kleinhoewe. Albei eenhede het op die wenk reageer en ʼn klopjag uitgevoer, waarna ʼn groot hoeveelheid donkievelle in die stoorkamer gevind is,” het die polisie gesê.

Volgens die polisie dui voorlopige ondersoek daarop dat die stoorkamer deur ʼn buitelander gehuur is wat nie op die perseel woon nie. Die donkies is glo onwettig vir hul velle geslag en het ʼn geskatte straatwaarde van nagenoeg R2,2 miljoen.

Die polisie ondersoek twee sake vir oortredings wat verband hou met die Wet op Veediefstal en Wet op Vleisveiligheid. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Die vonds volg skaars ʼn maand nadat honderde donkies glo lewend in die Olifantshoek-gebied in die Noord-Kaap vir hul velle geslag is. Kort daarna is altesaam 35 donkies in ʼn kraal op ʼn stuk grond 8 km van die grens tussen KwaZulu-Natal en Lesotho in die Twin Springs-gebied gevind waar hul velle afgeslag is.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het destyds gesê die vraag na donkievelle vir sogenaamde medisinale doeleindes groei al meer in Suid-Afrika. Die NDBV het gesê donkievelle bevat gelatien en sommige mense glo dat hierdie gelatien teenverouderingseienskappe het, slapeloosheid kan behandel en bloedsirkulasie kan verbeter. Die donkievelle word geweek of gekook om die middel vry te stel, voordat dit as bestanddeel in verskeie tablette, tonikums en strope gebruik word.

Daar word wêreldwyd stappe gedoen teen die kwessie van donkies wat vir hul velle afgeslag word vir Chinese ejiao-handel.

Dié inisiatief word gelei deur die Donkey Sanctuary in die Verenigde Koninkryk. “Die NDBV doen ʼn beroep op almal wat omgee om die aanbevelings te ondersteun op die Donkey Sanctuary-webwerf. Meer besonderhede is op die NDBV se webwerf en Facebook-blad oor die “Under the Skin”-veldtog te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

And ·

Party van die donkies word op ‘n wrede manier vankant gemaak. Arme donkies.

louise van Jaarsveld ·

Bure hier naas ons het op n tyd horde donkies gehad,aan ons gese hy koop en verkoop dit weer aan n slaghuis in Randfontein wat Chilli bites ens van die vleis maak.

Johann ·

Ek het ‘n gevoel dat die hele ding teen die Christendom gemik is, ja wonder maar net wat sal sommige met ‘n rol doringdraad maak ????

Stephanus ·

Alweer die Chinese, as dit nie ons renosters is nie, dan stroop hulle ons donkies!!!?

Johannes van Staden ·

Hulle slaan die donkie voor die kop met n HAMMER dan slaan die dier neer …dan terwyl hy nog lewe sny hulle sy vel af terwyl hy nog lewe ! ! SIEK ! !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.