Stap virtueel saam teen plaasaanvalle

TLU SA het Donderdag ʼn veldtog bekendgestel waarin alle Suid-Afrikaners genooi word om deel te neem aan ʼn virtuele protesoptog teen plaasaanvalle.

“Die boere van Suid-Afrika is lewensbelangrik en beskik oor besonderse kennis en vaardigheid om in ʼn marginale landbouland sukses te behaal en kos vir ons tafels te produseer,” sê Henry Geldenhuys, die voorsitter van TLU SA se Veiligheidskomitee en adjunk-president van TLU SA. Hulle word inderdaad beskou as van die beste boere in die wêreld. Suid-Afrikaanse boere hou aan om ʼn plan te maak, deur droogte, deur inperking, deur aanvalle.

“Ongelukkig word Suid-Afrika se boere, hulle gesinne en werkers al hoe meer en al hoe meer brutaal aangeval en vermoor. Tot op datum vanjaar was daar reeds 35 plaasmoorde in 180 plaasaanvalle. Dit is nié net statistiek nie. Dit is mense.”

Geldenhuys voeg by Suid-Afrikaners besef dikwels nie die groot impak wat hierdie aanvalle op landbou as ʼn geheel en uiteindelik voedselproduksie, het nie.

TLU SA stap op 14 Augustus binne 24 uur virtueel om Suid-Afrika in protes teen die 5 530 plaasaanvalle sedert 1990. Oor dieselfde tydperk is 2 083 mense uit die lewens van hulle gesinne, vriende en gemeenskappe geruk.

“Met die staptog van 5 530 km hoop TLU SA om genoeg aandag op hierdie misdade te fokus sodat die regering gedwing word om meer as net leë woorde oor die erns van die situasie te spreek. Plaasaanvalle moet as prioriteitsmisdaad dieselfde aandag en aksie geniet as ander ernstige misdade.

“Ons besef dat geen veldtog of protesoptog op sy eie misdaad kan stop nie, maar dit is belangrik om só bewusmaking oor die probleem te skep, hier en internasionaal,” voeg Geldenhuys by. “Ons weet dat dit in die hande van die gemeenskap lê om misdaad te bekamp aangesien daar by die regering die politieke wil ontbreek om die situasie te beheer. Ons wil graag hê dat alle Suid-Afrikaners wat keelvol is vir misdaad, saam met ons aan hierdie protesoptog deelneem.”

Belangstellendes kan vooraf by hierdie skakel vir die virtuele protesoptog registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charles ·

Die skakel vir registrasie werk nie. Kan jul daarna kyk asb.

Megan Swart ·

Dagsê Charles
Dankie vir jou boodskap. Die virtuele staptog word deur die TLU SA gereël en al die inligting is dus slegs op hulle webwerf beskikbaar. Ons sal dus ongelukkig nie self iets kan doen as die skakel (https://www.tlu.co.za/stap-teen-plaasaanvalle/) nie werk nie.
Stuur gerus ‘n e-pos aan die TLU SA by [email protected] om jou belangstelling te registreer.
Dankie!
Groetnis

Johan ·

Om te stap vir ewig,selfs rondspring in die strate,sal niks verander nie. Ophou om voedsel te verbou vir n jaar sal sekerlik die moordenaars en plaasdiewe laat 2keer dink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.