Stapelberg bly agter tralies

Freddie Stapelberg

Freddie Stapelberg, Nadine Terblanche se lewensmaat, word beskuldig van haar moord en dié van haar negejarige seuntjie, Ruandré. (Argieffoto: Isabel Venter/Maroela Media)

Freddie Stapelberg, die man wat beskuldig word van die dubbelmoord op sy lewensmaat, Nadine Terblanche (32) en haar negejarige seun, Ruandré, bly agter tralies nadat die hof sy aansoek om borgtog van die hand gewys het.

Die 34-jarige Stapelberg het Woensdag weer in die Palm Ridge-landdroshof verskyn waar hy tereg staan op twee aanklagte van moord met voorbedagte rade, asook twee aanklagte van poging tot moord. Saam met hom in die beskuldigdebank is Pardon Danhire, ʼn Zimbabwiër wat as tuinwerker vir Terblanche gewerk het.

Danhire, wat aanvanklik in verband met die moorde aangekeer is, het volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sy betrokkenheid by die moorde erken en Stapelberg uitgewys as die man “wat hom gehuur het om Terblanche dood te maak sodat hy in die geval van haar dood toegang tot haar bates en/of geld” sou kry.

Nadine en Ruandré is op 27 November in hul huis in Randhart, Alberton, vermoor.

Die staat het Stapelberg se aansoek om borgtog teengestaan. Sers. Mmakgabo Itumeleng Moloto het aan die hof gesê daar is ʼn sterk saak teen Stapelberg. Adv. Riana Williams, senior staatsaanklaer, het ook aan die hof gesê dit sou die behoorlike funksionering van die strafregstelsel ondermyn om Stapelberg op borgtog vry te laat.

Daar is ook ʼn waarskynlikheid dat Stapelberg by die voortgesette ondersoek kan inmeng omdat hy die meeste van die getuies ken, sê Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder in Gauteng.

Stapelberg word ook van ʼn bylae 6-misdryf aangekla. “Sou hy skuldig bevind word, kan hy lewenslange tronkstraf opgelê word. Dit, tesame met die feit dat die applikant [Stapelberg] nou weet hoe sterk die staat se saak teen hom is, kan aansporing wees om sy verhoor te ontduik sou hy op borgtog vrygelaat word,” het Williams aan die hof gesê.

Die NVG het die hof se besluit verwelkom om Stapelberg se aansoek te verwerp.

“Sy vrylating sou openbare vertroue in die strafregstelsel ondermyn het,” sê Mjonondwane.

Die saak is tot Mei vir verdere ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lizelle ·

Ek wens ek kan verstaan wat aangaan in mense se koppe wat sulke dade pleeg! Het jy regtig gedink jy kan daarmee wegkom? Was jou gierigheid vir haar besittings en geld so groot dat jy nie verder gedink het nie? Jy is ook ‘n pa van kinders, het jy nie gedink wat dit aan jou kinders en familie sal doen nie? My brein sal nooit hierdie dinge verstaan nie. Hoop geregtigheid geskied…

bolletjie blom ·

Die mensdom het dol geraak. Hoe maklik en gewetenloos word ‘n moord gepleeg. Geen mens op aarde het die reg om ‘n ander mens se reg om te leef van hulle af weg te vat nie.

Robert ·

Wonder of die Zimbabwiêr ook nog aangehiu word? Hy is waarskynlik die een wat die moorde gepleeg het!!

Karoo ·

Byde Mans desperaat, so desperaat dat jy ‘n arm man, met min geld kan oortuig om’ n vrou, ‘n Ma van’ n liewe seun, en die kind te vermoor…. en dan glo byde Mans hulle gaan daarmee wegkom. Was dit alles die moeite werd? Hoe moes die Ma nie haar kind beskerm nie, of dalk die seuntjie, wat het hy nie moontlik aanskou nie. Mag daar genade vir die slagoffers wees… en geregtigheid geskied vir die 2 Mans se gruwel plan en daad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.