Stappe begin om Eskom-verslag openbaar te maak

Argieffoto: GCIS

Stappe het begin om die verslag wat die Spesiale Ondersoekeenheid oor Eskom se geldsituasie opgestel het, in die openbaar vrygestel te kry.

Die verslag lê tans en stof vergaar in die presidensie nadat dit vroeër aan pres. Cyril Ramaphosa verskaf is.

Daar is groeiende kommer oor die elektrisiteitsvoorsiener se volhoubaarheid, veral noudat die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig het dat die staat ‘n verdere kontantinspuiting van R17 miljard vir Eskom bewillig het. Mboweni wil hê die voormalige direkteur-generaal van die nasionale tesourie en vorige hoofamptenaar van Absa, Maria Ramos, moet as herskikkingshoof van Eskom aangestel word.

Die DA-LP Natasha Mazzone dring nou aan dat die ondersoekeenheid se verslag openbaar gemaak word, veral te midde van aanduidings dat Eskom die afgelope ses maande meer as R4 miljard se diesel verbrand het net om beurtkrag te vermy – en dit terwyl die nasionale regering die Wes-Kaap verhoed om afsonderlik van die nasionale stelsel krag te voorsien op goedkoper wyse deur die gebruik van vloeibare gas, waarvoor die provinsie reeds die nodige internasionale ooreenkomste aangegaan het.

Mazzone beweer voorts – en daag Eskom uit om die teendeel te bewys – dat die geld wat Eskom uit ‘n Chinese lening bekom het, gebruik word om lopende kostes soos salarisse te betaal eerder as om dit vir instandhouding of die skep van infrastruktuur te gebruik.

Boonop is alle aanduidings dat Eskom besig is om finansieel agteruit te gly. Die salarisooreenkomste wat aanvanklik verlede jaar aangekondig is, ‘n verhoging van 0% weens die instansie se probleme, is laat vaar ná druk van vakbonde en verhogings bo die inflasiekoers is tesame met ‘n bonus van R10 000 per werknemer toegestaan.

Teen 30 September verlede jaar was Eskom se skuld op R419 miljoen en die verwagting is dat dit sedertdien verder gestyg het.

Munisipale skuld aan Eskom het met 25% binne ses maande toegeneem tot R17 miljard. Dit sluit Soweto se skuld van R17 miljard uit.

In sy begrotingstoespraak in Februarie het Mboweni aangekondig dat ‘n verdere R69 miljard oor ‘n tydperk van drie jaar in Eskom ingepomp sal word. Van sy ander voorneme, om Eskom in drie te deel vir beter bestuur, het daar nog dadels gekom weens vakbond-teenstand.

Die nasionale elektrisiteitsreguleerder het in Maart Eskom se versoek om tariefverhogings van meer as 10% per jaar afgewys, en besluit op sowat 9%, sowat 8% en sowat 5% vir die volgende drie jaar. Dit sal Eskom verder strem.

Die verwagting is dat Eskom se verlies vanjaar R30 miljard sal beloop.

Vandeesmaand het die regering reeds R5 miljard bykomend aan Eskom beskikbaar gestel en die kredietagentskap Moody’s het Eskom as die grootste gevaar vir Suid-Afrikaanse kredietgradering bestempel.

Nou lê die winter voor en denkende Suid-Afrikaners hou die harte vas, want die aanvraag na elektrisiteit is in die winter veel meer as in die somer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

koue beer ·

Hout se pryse gaan seker opgaan…… ? Ons sal wel na die verkiesing weet wat aangaan

Deon ·

Privatiseer die sektor met Eskom as ‘n gewone deelnemer. Nuwe toetreders en die mark die sal die res doen.

Andreas ·

Maar Cyril loop en stemme werf, plaas dat hy hom daar by Eskom ‘n kantoor inrig. Dan Jan-Jan, hoe seker is ons dat daar nog krag oor ‘n maand gaan wees? Ek het idee hierdie mense ploeter/strompel voort op ‘n dag tot dag basis. Ek het idee ons kom elke dag net met die genade van bo deur.

En veronderstel Ramos word aangestel, hoe lank gaan dit haar neem om die skip se remme aangeslaan te kry dat daar nie nog geld oor die rand van die oseaan stort nie, vergeet nou maar van dat sy kostes sal kan afbring. Hoe lank gaan dit wees, al stap sy more daar in , voor sy enige impak sal hê, ses maande, ‘n jaar?

En dan is hulle soos ‘n steeks donkie, maar hulle sal om die dood nie Eskom se las verlig deur die Wes-Kaap toe te laat om hul eie krag aan te koop nie, nee, die ANC regering wil mos als en almal beheer, al beteken dit ook die land stort die afgrond in. Gee hulle werklik om vir die Ekonomie en die land?

Andreas ·

Die ANC regering besef natuurlik dat as hulle aan die Wes-Kaap toegee, dit enorme druk op hulle sal sit, en dit sal hulle soos verloorders laat lyk, wat hulle is, dan kan hulle maar koebaai sê vir die Kaap, vir altyd, want hoe kry jy so ‘n besluit ooit weer omgekeer. En dit sal hulle ook nasionaal ‘n kollosale knou gee.

Felix ·

Sy gaan daar met ‘n towerstaf in die hand instap, so glo die ANC. Net haar naam alleen, beduie hulle al klaar, sal beteken dat ons nog ‘n ekonomiese afgradering gespaar sal bly. Dis nou om nog meer geloofwaardigheid te gee. Wie gee vir die onmiddelike om vir ekonomiese afgradering, dit gaan nou om oorlewing, sit liewer die planne op die tafel, met tydtafel en al. En dan, waar is al die wit ingenieurs wat hulle gesê het sal kom help, kan ons nie maar ook ingelig word wat daar gebeur nie. Ek sal graag dieselfde verslag wil sien wat Cyril nou die dag beduie het hy op ‘n daaglike basis kry. Eintlik moet daar in die koerante sommer ‘n eie Eskom verslagkolom wees, dan kan die verslae sommer direk daar geplaas word.

Johann cb ·

Ons gaan binnekort sonder elektrisiteit sit! Met ál die bedrog/diefstal en swak instandhouding, is dit ons voorland!

Gert Potgieter ·

Eskom is nou “Eishdom”
Gaar maar brandstof op vir die kragopwekker. Ons gaan dit nodig hê!

Gert van Wierdapark ·

CR sit natuurlik hout-gerus op die stowwerige verslag tot NA die Ver/naby-kiesing. TIPIES van ons Kakistokrasie!

Andreas ·

Daardie verslag is nou al so verouderd dit beteken niks, hulle sal maar nuwe een moet opstel. Laat ons dan vertrou Cyril weet wat om met daardie verslag te maak, want duidelik het hy nie ‘n idee gehad wat om met die huidige stofeen te maak nie. Ek het verder idee, dis tien teen een nie dat hy nie geweet het nie, hy wou dit maar net geheim hou. Dit laat my dink die situasie is slegter as wat hy beduie. Hy plak nou eers pleisters op om te probeer dat die situasie verbeter teen die dag wat die verslag die lig sien.

Saint ·

As – Marie Ramon oorneem, gaan sy genadeloos en onverskrokke oorneem en ongelooflik baie mense gaan seerkry nadat hulle jarelange kripvreters was.
Heel moontlik gaan sy die vakbonde vra om haar kantoor toe te maak – van die BUITEKANT AF, asseblief – a la Margaret Thatcher soveel jare gelede met die steenkool werkers in die VK gedoen het.
Iemand gaan seerkry en dit gaan nie net Eskomwerknedersetting wees nie maar ook onskuldige burgers weens landwye anargistiese oproer wat gaan plaasvind.

Andreas ·

Ramos het Transnet bykans in die grond in bestuur en ABSA agteruit laat boer. So hoe Gordhan met haar die haas uit die hoed wil trek weet nugter.

fred ·

419 MILJARD = 419 000 Miljoen SKULD….Wat gaan die jaarlikse rente wees?

Wildeboer ·

Sy sal binne ANC beleid funksioneer. Die ANC wil nie die steun van sy vakbonde verloor nie.

Daan ·

As Cyril daai verslag bekend maak, sal ek vir hom n Coke en n witbrood koop.

Michelle ·

Nee dit is net om te sê wat hulle als wil gebruik vir hulself bietjie gate wat persoonlik moet toegestop word nog dinge wat hul graag wil doen met die leen geld want China sal weer leen hul het groot hart die trein is al voos gery want hul het niks meer lieg stories nie dan is dieselfde die oorsaak dan petrol dan dit altyd iets maar dit die agter sakke wat grootste rede is en ons wat sal aanhou betaal ons moet net elke keer vra hoeveel dis al.

Frederik ·

Ja Ramos het dat ons Spoorweg werkers nou so arm is dat van ons
amper geen geld ontvang.
Ons kry 2% verhooging ‘n jaar, na al die jare kry ons nou ‘n
hongerloon.
Wat kan jy koop met ‘n duisend rand.
Ons kry moelik.
So wat gaan nou met eskom gebeur.
???????????????????????. Dit wil ek sien.

Attie. ·

Al die wit amptenare by Eskom het pakette gekry nadat hulle al die swart amptenare opgelei het om die werk te doen. Nou word 1000 e swart boere deur wittes opgelei om kos te produseer. Al die munisipale werkers is opgelei om gate in die strate toe te maak, met sand, en die kabinet is opgelei om die land te bestuur. Die grap word al groter en ons huil al harder en nou wil ons die seel op die koevert plak deur DA te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.