Stappe gedoen oor stembokse langs pad

Die foto wat op sosiale media versprei is. (Foto: Twitter)

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het gesê stappe sal gedoen word teen die persoon wat daarvoor verantwoordelik is dat drie ongebruikte stembokse langs ʼn pad in Tzaneen in Limpopo beland het.

Dit kom nadat ʼn foto op sosiale media versprei is van die bokse wat in gras lê met ʼn bewering dat dit langs ʼn pad gevind is. Die bokse op die foto was nie opgestel of gebruik nie.

Die OVK het ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur en het later op sy amptelike Twitter-profiel gesê hy het vasgestel wie daarvoor verantwoordelik was dat die bokse daar beland het. “Ons kan bevestig dit was ʼn geval van nalatigheid. Die betrokke persoon sal in ooreenstemming met ons interne prosesse aanspreeklik gehou word, wat insluit dat die persoon van diens verwyder word,” lui die twiet.

Sommige sosialemediagebruikers het hierop gereageer deur te sê dit is duidelik dat die bokse nie gebruik is nie en dat die foto daarom geen rede tot kommer is nie. Ander het weer aangevoer dat dié voorval ʼn wolk oor die OVK se belofte vir ʼn vry en regverdige verkiesing laat hang.

Intussen het die uitslae van die jongste Ipsos-peiling getoon dat 61% van geregistreerde kiesers wel meen verkiesings in Suid-Afrika is vry en regverdig, terwyl 20% nie met die stelling saamstem nie. Die res van die deelnemers aan die peiling het nie hul siening hieroor gegee nie.

Volgens dié peilinguitslae is dit Wes-Kaapse kiesers wat die meeste vertroue het dat die kiesstelsel in Suid-Afrika vry en regverdig is (66%), terwyl die grootste wantroue onder kiesers in die Noord-Kaap heers waar net 41% van kiesers glo die verkiesing is vry en regverdig. In Gauteng glo 65% van kiesers die verkiesing is vry en regverdig, terwyl 54% van kiesers in KwaZulu-Natal dié siening deel.

Die peiling is tussen 22 Maart tot 17 April onder 3 600 lukrake deelnemers landwyd gedoen.

Die verkiesing het vandag begin met spesiale stemme wat by kieslokale en deur middel van tuisbesoeke uitgebring is. Die amptelike stemdag is Woensdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elna

So gaan ons stem briefies ook maar stap en langs die pad rus tot iemand op dit afkom. Dis klaar n bewys en maar net die begin. Ons sal weer praat na die uitslae dan sal ons kyk wie het weereens die verkiesing gewen.

Felix

Dit lyk nie of die bokse daar met die vorige verkiesing beland het nie, die skrif is ook nog duidelik te lees.

Hannes

Nog nie eers behoorlik afgeskop nie en klaar korrup

Spike

Daar waar die comrades en kaders betrokke is kan jy maar net jou kop skud.

Chris Ws

En die persoon verantwoordelik vir die oortreding gaan net ‘n tik op die vingers kry in plaas daarvan om krimineel aangekla te word.Hy/sy gaan van diens verwyder word? Moenie dat ek lag nie!Dis die grootste liegstorie .