Stappe gedoen teen maatskaplike sekerheidsfonds

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Solidariteit en AfriForum het Donderdag begin met stappe om die groenskrif oor die voorgestelde nasionale fonds vir maatskaplike sekerheid (NFMS) stop te sit.

Solidariteit het ’n ultimatum aan die departement van maatskaplike ontwikkeling gestel om binne 30 dae sy groenskrif oor hierdie beoogde fonds terug te trek. Indien die departement nie die groenskrif terugtrek nie, sal Solidariteit formele regstappe doen.

AfriForum het ’n petisie ingevolge die parlementêre reëls by die parlement ingedien wat die gevaar van die groenskrif uitwys. Die organisasie eis in die petisie dat albei stukke wetgewing onmiddellik onttrek word, anders sal die Suid-Afrikaanse regering ’n belastingprotes op die lyf loop.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het verlede Woensdag die groenskrif vir die voorgestelde inwerkingstelling van die NFMS in die Staatskoerant aangekondig. Daarvolgens stel die regering voor dat Suid-Afrikaners tussen 8% en 12% van hul inkomste tot ʼn beoogde NFMS bydra wat dan sentraal deur die staat bestuur sal word.

ʼn Groenskrif is ʼn regeringbeleid-besprekingsdokument wat spesifieke kwessies uitstippel en dan moontlike optrede rakende beleid en wetgewing voorlê. Dit is ʼn voorloper vir ʼn witskrif, wat die beleidsposisie van die regering uiteensit nadat dit deur die kabinet goedgekeur is.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, sê die publikasie van die groenskrif in die Staatskoerant is onwettig en ongeldig. Hy voer aan die minister en haar departement het versuim om ʼn aanvanklike en ʼn finale impakstudie oor die implikasies van die beoogde wetgewing te doen alvorens sy dit laat publiseer het, soos wat die wet vereis.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê Zulu het nie die regte prosesse gevolg met die publisering van die groenskrif nie en sy moet dit onmiddellik terugtrek.

“Gewone hardwerkende mense kan nie verdere belastingdruk hanteer nie. Die regering het ook ʼn geskiedenis van mislukte sentrale bestuur en plundering van fondse,” sê Hermann.

Hermann sê dis duidelik die regering is desperaat om fondse te bekom. “Hulle planne om werk te skep het misluk en nou maak hulle dit makliker vir mense om te oorleef sonder om te werk, eerder as om dit vir hulle makliker te maak om werk te kry. Hierdie misbruik van werkende Suid-Afrikaners se belastinggeld is nie volhoubaar nie. Dit sal die hele Suid-Afrika armer maak.”

Volgens Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is dit belangrik dat die ANC formeel volgens parlementêre prosesse in kennis gestel word van die gevare wat die volgehoue pogings om die wetgewing deur te druk vir Suid-Afrika sal inhou.

“Ons moet ons kommer formeel boekstaaf ingevolge parlementêre prosesse. Ons gebruik dié petisie om formeel te vra dat die wetgewing teruggetrek word. By gebrek daaraan sal Suid-Afrika op die afgrond van ’n belastingprotes staan. Ons verwag nie noodwendig reaksie van ’n hardkoppige ANC nie, maar moet formeel en vir rekorddoeleindes ons kommer en eise by die parlement indien, sodat die geskiedenis sal wys dat ons alles in die stryd gewerp het om die ANC te verhoed om voort te gaan met stappe wat ’n belastingprotes sal ontketen,” sê Kruger.

Volgens Kruger is AfriForum sedert die bekendmaking van die beplande wetgewing oorval deur keelvol belastingbetalers wat duidelik aantoon dat belastingverset ’n regverdige opsie raak wanneer die regering aktief teen sy burgers optree en belastingbetalers se kele wil afsny.

“Die ANC druk sy ore toe, paai die massas en hoop die belastingbetalers sal aanhou opdok vir die ANC se mislukkings. Die ANC het geen begrip van die vasberadenheid van belastingbetalers om nie verder deur die ANC se mislukkings belas te word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JM ·

Dit is tyd dat die ANC tot ‘n val kom en sommer vinnig!! Hulle is ‘n klomp bloedsuiers. Die einste belastingbetalers word andersins gemarginaliseer. Dit is hoog tyd dat belastingbetalers besluit: “Tot hiertoe en nie verder nie!”

Karel Kobus Kruger ·

Hoekom het 69% die ANC in 1992 toegelaat om die land oor te neem?

Di ·

Daar moet eerder drastiese stappe geneem word on die bevolkingsaanwas te begin beheer in Suid Afrika. Dit is skrikwekkend om te sien hoe baie kinders jaarliks gebore word, waarvan 90 % van hierdie ouers werkloos is. Die handtjie vol wat wel belasting betaal kan ONMOONTLIK nie vir hierdie hordes pa staan nie.

Tiptol ·

En die ouers kry geld vir elke kind wat gebore word. Verskriklik.

Renier ·

Ek sal instem vir so iets sodra die belasting betaler die enigstes in die land is wat mag stem. Betaal tax en jy mag stem. No tax no vote, maar dit sal nooit werk nie, die nmsf fonds idee ook nie. Te veel skelm kaders aan bewind.

Persheks Adri ·

Belastingprotes klink reg vir my! Ons is moeg betaal vir die ongeskoolde, ongeletterde, onnosele klomp! Wat gee hulle? 99% betaal nie eers belasting nie en die grense is oop viva ANC viva

Pablo ·

That means 50% of my monthly pension will now go to the ANC. This is simply unbelievable. Cuba here we come. ☹️

Deon ·

Hoeveel is oor van elke R100 rand wat die mense verdien, daar is persoonlike inkomste belasting, BTW, heffings op branstof, sogenaamde sonde belasting en so gaan die lys aan, hoeveel is oor van n R100 rand vir die gemiddelde werkende persoon.

Snowball ·

Dit sal interessant wees om te sien hoeveel nuwe belastings en belastingverhogings hierdie korrupte regering vannaf 1994 implementeer het en presies wát hulle daarvoor kan wys..

jou gewete ·

ek verstaan dat julle probeer ordentlik wees deur hulle n kans te gee om terug te trek maar asb begin die belasting protes vandag nog

Dana ·

Baie dankie Solidariteit en Afriforum!!!

Voordat beperking van bevolkingsaanwas ñ eerste prioriteit word is daar geen kans dat die werkloosheidskoers sal daal of dat verdere verarming van almal in hierdie mooi land ons voorland is nie.

Elize ·

Onthou net hierdie bevolkingsaanwas is die nasionale sport van SA

Blikkies ·

Hoe kan jy jou eie belasting hanteer as dit deur jou werkgewer oorbetaal word?

Jack ·

Al word die groenskrif teruggetrek is die boodskap reeds onder die bevolking versprei en gaan alles lei tot verdere plundery en betogings. Dit is nou die volk se reg om aan te dring op die toelaag en die eff sal dit beslis uitbuit. Die betrokke “ minister” moet verwyder word. Sy is besig om verraad te pleeg teenoor haar eie party gegewe dat sy n zuma aanhanger is is dit te wagte.

Cabytheron ·

Dit is net hier waar ek dan geen inkomste verder verdien nie!

Mieke ·

Ons het hierdie maand ‘n elektrisiteit rekening “from hell” gekry; rates and taxes het ook baie gestyg; (nie net ‘n bietjie nie) motor lisensie ook verhoog… ons kan niemeer byhou nie. Nou wil hulle dat ons NÓG meer belasting betaal? Dit gaan net nie kan werk nie. Daar’s reeds te veel skade aangerig deur korrupsie, onluste, diefstal, wanbestuur ens. Hoop die ANC val gou. Tyd vir ‘n eerlike regering!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.