Stappe geëis teen Kgetlengrivier se burgemeester

Die Kgetlengrivier-munisipaliteit. (Argieffoto: Molaole Montsho/ANA)

Die VF Plus het die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake in Noordwes gevra om stappe te doen teen die burgemeester van die sukkelende Kgetlengrivier-munisipaliteit nadat hy ʼn raadsvergadering glo saam met die ANC-koukus verlaat het sonder om die vergadering te verdaag.

Frans Potgieter, ʼn VF Plus-raadslid van die plaaslike owerheid, sê die party het Mmoloki Cwaile gevra om voor Dinsdag stappe teen burgemeester Amogelang Selaledi, wat ook as speaker van die raad dien, oor sy gedrag te doen.

Potgieter sê Selaledi het boonop geweier dat ʼn mosie vir sy ontheffing van die amp tot stemming in die raad gebring word.

“Hierdie onbehoorlike optrede deur die burgemeester en sy ANC-koukus is ʼn spieëlbeeld van die algehele verval en wanadministrasie wat in die Kgetlengrivier-munisipaliteit heers. Dit weerspieël ook sy algehele minagting vir ordelike demokratiese prosesse en die wette van die land,” sê Potgieter.

“Die inwoners van Koster, Swartruggens en Derby ly reeds lank onder die ANC-beheerde munisipaliteit se wanadministrasie, asook die algehele onvermoë om basiese dienste te lewer en infrastruktuur in stand te hou. Kragonderbrekings en watertekorte is aan die orde van die dag en sommige strate is bykans onbegaanbaar.”

Die plaaslike owerheid was die afgelope ruk pal in die nuus weens ʼn bittere twis tussen inwoners en die munisipaliteit oor die verskaffing van basiese dienste. Inwoners het vroeër self die bestuur van die water- en rioolaanleg oorgeneem nadat hulle maande lank onder vrotsige dienslewering gebuk gegaan het.

Die VF Plus sê nou hy verwag van die LUR om toe te sien dat die burgemeester aanspreeklik gehou word vir sy optrede en dat die voorgeskrewe dissiplinêre prosedures korrek toegepas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda G

En vir wie moet die mense bedank. Die mense gaan met oogklappe deur die lewe. Daar word nie aan inwoners vd dorpe gedink nie

Johann

Goed bedoel, maar julle gaan lank wag as ons dink die een onbevoegde gaan teen sy mede onbevoegde optree. Dis nie wat ‘n comrade doen nie.

Anel

Hulle volg maar net hulle leiers se voorbeeld.

Elize

Niks sal verander in die land voordat die regering nie verander is nie.