Stappe oor nuwe tariewe vir Jhb-skole gaan voort

Skole in Johannesburg betaal nou tussen ses en tien keer meer aan munisipale tariewe as voorheen. (Foto: Unsplash)

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan steeds voort met sy litigasieproses teen die Johannesburgse metroraad rakende aanpassings aan sy beleid op eiendomsbelasting.

Dít ondanks die burgemeester se aankondiging dat enige heffing bo die algemene 4,85% vir die res van die finansiële jaar by onderriginstellings afgeskryf sal word. Die organisasie het repliserende stukke verlede week aan die munisipaliteit beteken.

“Hoewel die metro se aankondiging ’n stap in die regte rigting is, is dit onduidelik hoe die proses sal werk, wat die uitwerking op die begroting sal wees en watter maatreëls die munisipaliteit daar sal stel om skole teen invorderingsmeganismes te beskerm,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Die partye wat in dié aangeleentheid litigeer, kan ’n baie groot rol speel om te verseker dat dié proses die resultaat kan hê dat skole die nodige beskerming geniet.”

Die organisasie het reeds ’n tussentydse bevel bekom wat verhoed dat die metro skuldinvordering op die verhoogde tarief teen enige onderriginstelling mag instel.

“Voordat daar nie uitsluitsel is oor hoe die metro dié situasie wil regstel nie, moet ons steeds met die regsproses voortgaan.”

Maroela Media het vroeër berig dat openbare skole luidens die nuwe beleid nou as ’n eiendom ten bate van die publiek gekategoriseer word, terwyl onafhanklike skole as sakeondernemings aangeslaan word. Die meeste skole in Johannesburg is voorheen in die beleid onder “onderrig” gekategoriseer. Dit beteken dat skole nou tussen ses en tien keer meer aan munisipale tariewe moet opdok as voorheen.

Dr. Mpho Phalatse, burgemeester, het die skuld verlede week op die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gepak, en gesê dat die metro geen ander keuse gehad het as om gehoor te gee aan die nuwe aanpassings nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het egter teruggekap en sê dat Cogta geensins die herklassifisering van skole as ondernemings afgedwing het of eens gemagtig is om sulke wysigings aan te bring nie.

Dlamini-Zuma voer aan dat die stad sedert 2015 kans gehad het om wysigings aan klassifikasies van artikel 8 (2) ingevolge die Wet op die Bepaling van Munisipale Tariewe toe te pas. Volgens dié wet mag munisipaliteite klassifikasies bepaal mits sodanige klassifikasies in die munisipale regsbevoegdheid bestaan.

Die minister sê Cogta het wel aan die metro opdrag gegee dat die klassifikasie van skole as “onderriginstansies” afgeskaf word, omdat hierdie klassifikasie nie in die regsbevoegdheid bestaan nie. Volgens Dlamini-Zuma kon die metro ondanks die herklassifisering egter aan skole ’n groter afslag gegee het, sodat hul tariewe nie dramaties toeneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Nou wat betaal die skole wat nie skoolgeld vra nie? Hierdie is maar net ‘n toets om te sien of daar kapsie gemaak gaan word voordat alle skole in die land, waar daar skoolgeld deur die ouers betaal word, so belas gaan word!!! Nou wil hulle die skoolstelsel heeltemal vernietig!!!

Smirre ·

Is daar hoegenaamd iets wat die ANC kan reg doen? (nee, wegkom met korrupsie is nie sukses nie)

Oosieoos ·

Nog a rasistiese besluit gee hulle pakdlae. Dit hou netnie op nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.