Stappe teen departement ná Baba Juan glo in hospitaal brand

Juan Venter se brandwonde het mooi herstel. Foto: Verskaf

Juan Venter se brandwonde het mooi herstel. Foto: Verskaf

Die ouers van Juan Venter is besig om regstappe teen die Gautengse departement van gesondheid te doen nadat hul pasgebore babaseuntjie glo met ʼn warmkombers in die Bertha Goxwa-hospitaal in Germiston gebrand het.

“Ons het prokureurs aangestel en is besig om die departement te dagvaar,” het Juan se ma, Mariaan Pienaar, Maandag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê die saak kan tussen ses maande en vyf jaar duur, maar hulle is gereed vir enigiets om seker te maak geregtigheid geskied vir die pyn en lyding waardeur Juan, nou vyf maande oud, gegaan het.

Pienaar het gesê dit gaan deesdae baie goed met Juan en die wonde aan sy hand, knieë en tone het mooi herstel. “Een van die naeltjies op sy tone groei nie, maar verder het al die ander wonde mooi herstel.”

Sy het gesê Juan se knieë het nog steeds letsels en hulle sal slegs met tyd uitvind of hy enige permanente skade opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig Pienaar het op 18 Junie aan haar en haar verloofde, Riaan Venter, se eersteling geboorte geskenk. Die paartjie bly in Boksburg. Juan was twee dae oud toe hy die brandwonde opgedoen het toe hy glo met ʼn silwer elektriese kombers in die hospitaal gebrand is. Sy wonde het na twee weke swart geword en ma en baba is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto oorgeplaas.

Pienaar het daarna ʼn privaat dokter genader wat onderneem het om Juan gratis te behandel. Hulle is uiteindelik albei op 10 Julie uit die hospitaal ontslaan. Die dokter het versoek om anoniem te bly. Sy het aan die paartjie bevestig dat Juan brandwonde opgedoen het.

Lees vorige berigte oor Baba Juan hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish! ·

Snaaks waaraan ek nou gedink het………..Die ouers het nie geld om ‘n privaat dokter te betaal nie, maar wel geld om ‘n prokureur te betaal. Snaaks ? Tog stem ek dat agterlosigheid te maklik toegesmeer word. Vir my klink dit na mense wat weereens geld wil maak uit ander se foute.

Amelia ·

Het jy nog no out van ‘pro – bona ‘ sake gehoor nie?

Engela ·

Geen wonder jy gebruik ‘n skuilnaam nie nogal Eish!!!!!!!
Ja nee ek sal ook net sê “eish” vir jou simpel opmerking

Leeutjie ·

Eish, probeer om nie te dink nie! Ek hoop jy verstaan wat Amelia gese het… Hierdie ouers moet optree want as dit nie aangespreek word nie kan dit vorentoe ‘n baba se dood veroorsaak… Die staatshospitale het al soveel babas se dood gekos deur nalatigheid en as iemand dan optree word dit aangeneem dat die ouers probeer geld maak!

Ouma ·

Eish, weet jy ek hoop van harte so iets gebeur nooit met een van jou mense nie. En enige “geld” wat hier uit gemaak word sal NOOIT OOIT betaal vir die pyn en leiding waardeur hierdie baba en sy ouers is nie. Het jy daardie merkies op Juan se kniegies gesien? Wel ek kan vir jou sê daardie is vrek diep wonde. Ek kan ook vir jou sê dat toe hy na 23 dae uit eindelik by die huis gekom het moes Mamma en Pappa daardie stywe spiertjies wat in spasmas getrek was uit vryf anders het hy sy beentjies se gebruik verloor. So weet jy Eish, dit is nie vir die geld nie en ja soos Amelia gesê het die prokureur doen hierdie op ‘n pro bono basis

Suzette ·

@ Eish – wens mense wil hulle negatiewe kommentaar vir hulle self hou. Ons praat van ‘n mens hier. Baba Juan het in sy kort lewe baie deurgemaak deur mense wat veronderstel is om gekwalifiseerde verpleegkundiges te wees. Ek werk vir die firma wat Mariaan bystaan met haar eis. Weet jy, dat die prokureur wat die saak hanteer die grootste deernis vir sy medemens het. Nie alles gaan altyd oor geld nie. Hy doen moeite en ry selfs byna 200km om verklarings te neem en te gaan kyk hoe dit met Juan gaan. Hy stel belang en skakel sporadies om te verneem hoe dit gaan. So ja, Mariaan, Riaan en baba Juan het nie sulke kommentaar nodig nie. Hulle seuntjie se volkome herstel is vir almal belangriker as snedige aanmerkings deur mense wat nie weet wat die ooreenkoms tussen prokureur en kliënt was nie. Se liewer niks voor jy jou naam so “bollie” maak.

Anti-azania ·

Eish moet miskien meer water bygooi, ek het ook nie geld om ‘n private dokter te betaal nie want mediese fondse is werklik net vir die rykes (soos Eish blykbaar) maar ek het ‘n goedkoop polis wat gratis regshulp insluit.

Gaan dus maar staatshospitaal toe en hoop vir die beste, ons betaal hulle in elk geval ook, maar darem minder as vir die snobistiese fondse.

Amelia ·

Eish – wees dalk maar net dankbaar dat jy nog nooit is so situasie was nie, sonder om te oordeel waardeur ander gaan. Dankie vir die ondersteuning aan die res – ons as gesin waardeer dit opreg!

Ouma ·

Eish, kom ek vertel vir jou uit my oogpunt. Ek hoop van harte so iets gebeur nooit met iemand naby aan jou nie. Hierdie is en was nog NOOIT vir enige van ons oor die geld nie. Inteendeel. Hierdie prokureur doen dit ook nie vir ons op die grondslag van geen wen geen fooi.

Sê vir my. Het jy ooit regtig na daardie merkies op Juan se kniegies gekyk. Het jy enige idee hoe diep daardie brand wonde was. Het jy enige idee van hoe seer hy moes gehad het. En nie een van die staf by daardie hospitaal het ooit eens vir ons gesê “ek is jammer” nie. Weet jy hoe dit voel om vir die eerste 23 dae na jou baba se geboorte hom nie eens te mag optel of vas te hou nie?
Weet jy hoe het dit vir Mariaan en Riaan gevoel het om hulle baba in soveel pyn te sien? Weet jy hoe dit gevoel het toe hulle vertel is hulle baba se beentjies moet geamputeer word want hy het gangreen?

So voor jy klippe gooi, kry jou feite reg

Ekke ·

Ouma ek is saam met julle hartseer oor die klein outjie so seer en vol pyn die wêreld moes inkom.Ag en wat ‘n partige seuntjie is dit nie. Kan nie dink waardeer Mariaan en Riaan moes gaan, om hulle bloeitjie in soveel pyn te sien en daar is niks wat jy kan doen om dit beter te maak nie. Ek sien die ou merkies op die kniegies, wat nog steeds NA 5 MAANDE so duidelik sigbaar is, en dit sê vir my hoe diep daai arme engeltjie gebrand is. Ja ek dink EISH het gepraat voor hy/sy gedink het. Kom ons vergewe ook maar die onkunde daar. Sterkte vir julle en ons bid saam met julle dat Juankie geen nagevolge sal oorhou nie en o ja STERKTE MET DIE REGSTAPPE. Ry hulle tot by daantjie en die kalwer hok. Dink aan julle. (drukkie vir Juan, Mamma en ouma)

Daan ·

Vir my klink eish na iemand wat altyd iets wil se sonder dat hy weet wat al die veite is nie. En asb moet eerder nie dink nie want dink is blykbaar nie een van jou sterk punte nie. Jy dink net aan geld, die res van ons dink an die pyn wat die kind en sy ouers deer moes gan en dan nog al die behandeling wat nog moet volg vir die kind om te herstel. Ek dink an julle en hoop dat juan ten volle sal herstel

Hana ·

Eish, jammer jy slaan jou naam met ‘n plank, eish……….

Karien ·

Weet julle daar is prokureurs wat werk op as hul saak wen wod hul betaal! Hierdie seuntjie gaan dalk ernstige nadele he! En hospitale moet begin betaal vir hul nalatigheid

chantelle doman ·

Hi daar aan almal …as dit my kind was sou ek ook optree soos wat mariaan optree met die hele saak.. Jy weet nie wat hul geldelike situasie is nie. Daar is iets soos BORGE ens. So voor jy opmerkings maak waarvan jy niks weet nie Eish.. Bly eerder stil….en die dokter wou nie geld he nie.. Want die kind se gesondheid belangriker as geld!!! En dit is nie toegesmeer nie dit moet landswyd aangegee word oor hoe sleg ons land is.. Met mediese hulp.. Dis pateties. Het jy gesien hoe lyk daai baba se bene en hande.. Hy was pasgebore dink deur watter pyn die kindtjie moes gaan.. Dis haar eerste kind wees bietjie simpatiek hieroor.. Eish..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.