Stappe teen polisie oor R5-geweer by baba

Argieffoto

Argieffoto

Twee polisiebeamptes aan die Wesrand staar dissiplinêre stappe in die gesig nadat ʼn eenjarige babadogtertjie met ʼn R5-geweer gespeel het nadat een van die beamptes dit glo in haar ouers se huis vergeet het.

Netwerk24 berig Nikita (23) en Kobus van Zyl van Randfontein het die polisie omstreeks 12:00 Donderdag gebel nadat daar by hul huis ingebreek en hul kragopwekker gesteel is. Twee polisiebeamptes het later opgedaag en in die woonkamer gesit om hul verklarings af te neem. Een van die beamptes het sy vuurwapen teen die muur staan gemaak naby die baba se speelgoed – en dit daar vergeet.

Nadat die polisiebeamptes weg is, het Nikita die hek agter hulle gesluit en teruggestap na die woonkamer. Sy het gesê sy het yskoud geword toe sy sien hoe haar baba met die vuurwapen “sit en speel”. Die baba het glo bo-op die vuurwapen gedruk.

“Ek het my kind vinnig opgetel en ʼn foto van die vuurwapen geneem. Ek het die polisie gebel en hulle van die vuurwapen vertel. Die skuldige polisiebeamptes het gesê ek moet die vuurwapen op ʼn veilige plek bêre en hulle sal dit later kom haal. Die twee [beamptes] het ure later opgedaag om dit te kry,” het Nikita gesê.

Sy vertel sy en haar man het nie geweet wat om met die geweer te doen nie. Hulle het ʼn lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gevra om na hul huis toe te kom en die vuurwapen te vat. Hy het dit bo-op ʼn kas neergesit.

Volgens Kobus wou hy nie die geweer aan die beamptes teruggee nie. “Ek het gevra of die geweer se veiligheidsknip aan is. Hulle kon my nie antwoord nie. Ek wou nie die geweer aan hulle teruggee nie. Ek wou gehad het ʼn senior polisiebeampte moet dit kom haal,” het hy gesê.

ʼn Polisiebeampte met ʼn meer senior rang het daarna opgedaag. “Ek het gehoor die beampte het die geweer teen die muur gesit. My kind het die geweer omgetrek en dit by haar speelgoed gesit. Wat as ʼn skoot afgevuur is? Hulle het daarna vir my gesê ek kan nie ʼn klag lê nie, want my kind is nie beseer nie.”

Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die betrokke polisiestasie is bewus van die voorval en dissiplinêre stappe sal gedoen word.

Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dave ·

Ag nee man, netnou gaan die mense dink dit is ek wat so min taaltrots het en Engelse eensin briefies in ‘n Afrikaanse koerant skryf.

Peet Schabort ·

Bravo polisie, dis ‘n heel nuwe een. Nie eers ‘n ‘crook’ sal só nalatig wees nie.

NEL ·

Dit wil voorkom of die statistieke wat die polisie ‘n ruk gelede uitgereik het aangaande 1000 de verlore vuurwapens, begin sin maak. ‘n Lid los sommer sy vuurwapen nadat hy ‘n verklaring afgeneem het. Gelukkig was die ou baie nice en het hulle laat weet dat sy dogtertjie met die ding speel. Hoeveel ander gevalle is daar nie wat die beampte sy vuurwapen agter laat na so ‘n verklaring en die skurk by wie die verklaring afgeneem is pleeg ‘n moord oor ‘n dag of drie met ‘n wapen wat nie aan hom behoort nie.Lid raporteer dat sy vuurwapen weg is, vra omverskoning en onmiddelik word een aan hom uitgereik.

Wat het van die trots geword wat die polisiemanne uitgeleef het in die ou bedeling.

Ek soek nog ‘ n goeie woord want pateties is nie goed genoeg in die geval nie.

Winston ·

En as jy jou wapen in n kluis sit en word met kluis en al gesteel, is jy onmiddelik onbevoeg en verloor al jou lisensies!!!
Vergeet van tugstappe teen daardie beamptes. Hulle sal eerder aangeprys word omdat hulle teruggegaan het om die wapen te kry. Swak dissipline en betreurens waardig pateties.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.