Stappe teen werkers nadat hulle riool in veld stort

Argieffoto

Argieffoto

Dissiplinêre stappe sal teen munisipale werkers van Noordwes gedoen word nadat hulle rou riool in ʼn veld buite Vryburg uitgepomp het.

Leon Pretorius, bestuurder van water en sanitasie by die Naledi plaaslike munisipaliteit, het Woensdag gesê die voorval is Maandag aangemeld en ʼn ondersoek is van stapel gestuur. “Dit is waar dat rou riool gestort is. Dit word nie toegelaat nie; dit is nie ons beleid om rou riool in ʼn veld te stort nie,” het hy gesê. Hy het bevestig daar sal stappe teen die werkers gedoen word.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het gesê hulle het fotografiese bewyse dat die werkers die riool in ʼn veld naby die Devondale-nedersetting uitgepomp het. Louwna Pretorius, DA-raadslid in die munisipaliteit, het gesê dit is die tweede keer vandeesmaand dat beeldmateriaal deur middel van kameras toon hoe werkers riool in die veld uitpomp.

Volgens Pretorius het Modisenyane Thompson Segapo, die munisipale bestuurder, voorheen belowe om die rioolstorting-probleem aan te raak, maar nog niks daaraan gedoen nie. “Daarom sal die DA Segapo by die Groen Skerpioene aangee,” het sy gesê.

In Augustus het Pretorius beweer rou riool vloei in Vryburg se strate weens stukkende rioolpype te wyte aan ʼn algehele gebrek aan instandhouding van die rioolstelsel. “Sommige inwoners het permanent riool wat in hul erwe opdam,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gerhard Bezuidenhout ·

Dit is n skande en daardie slegte personeel wat rou riool in die veld uitpomp werk nog daar . Hulle en daardie Segapo siel moet almal krimineel vervolg word en ook afgedank word. Ek sal graag nog meer wou se maar weet dat Maroela my kommentaar weer sal verwyder.

Peet Schabort ·

Foto’s en videos is die enigste manier. Op die einde gaan almal van hulle vasdraai MITS ons saamwerk. Dit gebeur ook hier by die Vaaldam en hoër op met die Vaal- en Wilgeriviere. So, dat julle inklim in hierdie oefening. 12 000 000 mense is afhanklik van die Vaaldam.

Dave ·

So, as ek in die Transvaal gaan kuier moet ek drinkwater saamneem!

Joa ·

Ek drink al vir baie jare nie meer die munisipale water nie want mens het nie nodig om die rou riool te sien om te weet wat met ons water bronne (damme, riviere ens) aangaan nie. Ek vat my water saam oral waar ek heen gaan, selfs as ek net by iemand om die draai gaan kuier. Ek weet daar is mense wat nie bottel water kan bekostig nie en is hulle afhanklik van die water in die kraan en ek voel vreeslik jammer vir hulle.

Ben ☺☺☺ ·

Jy het `n briljante plan, ons moet 24/7 alles afneem wat verdag lyk en dit rapporteer. Mooi gedink.

alida ·

Julle laat my regtig lag. As jy die skuldiges rapporteer by die Stadsraad kry hulle verhoging!!!

scalla ·

Laat die skuldiges dit self met hul hande opruim, onbevoegde amptenare

Jan maak n Plan ·

sal seker weer n RSA verskoning wees – Eish ssoooorrryyyy. I did not know. Hulle sal soos gewoonlik op die ou einde niks oorkom nie want dis volgende jaar weer verkiesing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.