ʼn Vrou is ernstig beseer toe sy Sondag meters ver geval het tydens ʼn staptog in die Krantzkloof-natuurreservaat in KwaZulu-Natal.
Die vrou het na bewering op die voetpad gegly en 4 m geval voordat sy op haar rug geland het.
Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is om 12:13 na die natuurreservaat ontbied. Met hul aankoms het hulle met die KZN-wildbewaarders, RescueTech, eThekwini-brandweer-en-reddingsdienste en Marshall-sekuriteit vergader, waartydens ʼn aksieplan bespreek is om die beseerde vrou te red.
“Na ʼn lang en moeilike staptog het die reddingspan die vrou diep binne die natuurreservaat bereik. Die vrou het vermoedelik ruggraatbeserings opgedoen en haar frakture is op die toneel behandel.”
Vanweë die aard van haar beserings, sowel as die omgewing, is ʼn Netcare 911-helikopter ontbied wat die pasiënt na die naaste hospitaal toe geneem het.