Stapper ernstig beseer op berg

Paramedici behandel die vrou op die toneel (Foto: ER24)

ʼn Vrou is ernstig beseer toe sy Sondag in die berge in die Klipriviersberg-natuurreservaat in Johannesburg gegly en geval het.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê die vrou, in haar 20’s, het die oggend saam met ʼn vriend in die berge gaan stap. Sy het glo omstreeks 09:00 op ʼn rots gegly en geval. Sy het verskeie frakture aan haar arm en onderbeen opgedoen.

“Paramedici het omstreeks 11:45 die vrou bereik ná ʼn uur en ʼn half lange staptog,” sê Campbell. “Lede van Rescue 1-reddingsdienste het kort daarna in ʼn voertuig daar aangekom. Hulle kon daarin slaag om nader aan die toneel met die voertuig te ry nadat die park se bestuur vir hulle ʼn tweede hek oopgemaak het.”

Die vrou is op die toneel behandel vir haar beserings en dehidrasie.

Off Road Rescue Unit (ORRU), ʼn soek-en-reddingsdiens, het paramedici gehelp om die vrou van die berg af te bring. Sy is omstreeks 14:25 in die ambulans gelaai en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.