Stapper inspireer duisende ná staptog teen plaasmoorde


Duncan-Nyawo-stap-04

Duncan Nyawo gee ‘n roos aan sy medestapper, Alex Leitch se 2-jarige seuntjie, Jake. Foto: Esté Meyer Jansen.

Duncan Nyawo, die 37-jarige studente-onderwyser wat 350 km van Nelspruit gestap het teen plaasaanvalle, moord op polisielede en geweld in Suid-Afrika, het Donderdagoggend by die Uniegebou opgedaag en ʼn memorandum aan ʼn verteenwoordiger van pres. Jaco Zuma se kantoor oorhandig.

Die memorandum versoek dat plaasmoorde geprioritiseer word, dat daar meer gedoen moet word om polisielede te beskerm en dat die regering hulself sterker uitspreek tenoor xenofobiese geweld. In die memorandum is ook verwys na statistieke van AfriForum en TLU SA waarvolgens daar in 2014 ʼn totaal van 67 boere vermoor is en sedert 1990 meer as 3 000 boere.

Verskeie mense het Nyawo en sy medestappers, Sipho Mnisi, Ian Venter, Alex Leitch en Jaco Kloppers by die Uniegebou ingewag en met rose verwelkom. Die manne het daagliks 116 km langs die N4-deurpad afgelê tydens die veldtog. Nyawo het tydens die oorhandiging van die memorandum vir Suid-Afrikaners gevra om te verenig in ʼn gees van broederskap: “Ons moet veg teen mense wat verdeeldheid in hierdie mooi land van ons wil saai.”

Al die stappers was dit eens dat die staptog hulle verander het. “Ek is ʼn nuwe mens, ek het so baie geleer en net weer besef ons is hier vir ʼn doel,” het Kloppers, wie se neef en broer ook vermoor is, gesê. “Ons moet opstaan vir geregtigheid, maar nie met geweld nie.”

Volgens Venter het die staptog hom laat besef dat daar wel mense in die land is wat bereid is om op te staan vir wat reg is. “Soveel mense het vir ons slaapplek aangebied en het ons ondersteun. Ek voel soos ʼn ander mens na hierdie staptog.”

Mnisi, wat gereeld oor geweld en misdaad in Suid-Afrika op Facebook skryf, sê hy hoop dat hierdie staptog mense sal leer om mekaar lief te hê: “Suid-Afrika het verander in die laaste paar jaar, ek hoop hierdie staptog laat mense dit onthou.”

Pastoor Jabu Zwane van die Greater Grace Churh, het Nyawo ook kom ondersteun en ʼn boodskap van versoening gebring. “Suid-Afrika het ʼn slegte kultuur van blaamplasing ontwikkel,” het Zwane gesê. “Dit is vir my sleg dat daar so min gesê of gedoen word oor plaasaanvalle wat ʼn bedreiging is tot die toekoms van ons land. Boere is ʼn kwesbare groep, net soos kinders en vroue, maar ek het dit my persoonlike missie gemaak om deel te wees van die oplossing in hierdie land deur gesprekke oor hierdie kwessies aan die gang te sit.” Volgens hom moet Suid-Afrikaners met mekaar op ʼn menslike vlak praat.

“Ek het soveel respek vir Duncan, nie almal is bereid om op te staan vir wat reg is nie,” het Lumka Ndlazi, nog ʼn bystander gesê.

Volgens Nyawo is daar planne om nog soortgelyke staptogte aan te pak: “Ek wil graag langs die kus vanaf die Oos-Kaap na KwaZulu-Natal stap, maar mense uit die Vrystaat, Brits in die Noordwes en die Wes-Kaap het my ook genooi om na hulle te stap. Ek gaan dit beslis doen.”

  • Luister na Maroela Media se onderhoud bo-aan die berig met Nyawo ná sy aankoms by die Uniegebou. Lees ook die berig oor sy emosioneel belaaide ontmoeting met dr. Duncan Prinsloo, wat self ʼn plaasaanval oorleef het, hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

Mens kan letterlik en figuurlik ‘n pad stap SAAM met Duncan.
Laat weet ons sy volgende roete(s) sodat daar plan gemaak kan word om SAAM te stap.
Hierdie inisiatief moet momentum kry.

Asjas ·

Ek sal ook graag wil sien dat hierdie inisiatief meer media belangstelling kry. Sover is dit net Maroela Media, ek sien niks op News24 nie??
Selfs die “support” hier is maar min?

Gideon Roos ·

Natuurlik is die media dekking uiters min. Dit dien nie die agenda van die regering om hierdie aksies aandag te gee op die wereld of selfs lokale media nie. Dit sal die waarheid van die huidige toestand van die land ne vore bring en dit is iets wat hulle nie kan bekostig nie.

Propaganda werk deur inligting wat teenstrydig is met die regerende agenda van die massas te weerhou, en om inligting – nie noodwendig korrekte inligting nie – aan die massas te propageer.

‘n Regering soos wat ons het, behou sy mag deur die mense oningelig en onopgevoed te hou.

Uitgewekene ·

Die mees inspirerende boodskap in baie jare. Ek sukkel om te tik deur die trane heen want Duncan Nyawo is in hart en verstand die Suid-Afrikaner wat ek sou wou wees: lief vir sy naaste, wys hy die pad van Hoop!

CHRISTA ·

Duncan, JY IS ‘N STER!! Ek het die grootste respek vir jou!!! Indien jy enige hulp nodig het, hoop en vertrou ek dat jy instansies soos Afriforum kan nader en dat hulle dan na ons kan uitreik en bekend maak wat jy benodig om jou veldtog verder te voer. STERKTE VIR JOU!!! Mag die liewe HERE jou elke dag bystaan en bewaar!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.