Stapper val na sy dood in Drakensberge

Die liggaam is met behulp van ’n polisiehelikopter verwyder. (Foto: SAPD)

’n Stapper het die afgelope naweek tydens ’n staptog by Cathedral Peak in die Drakensberge na sy dood geval.

Die man, vermoedelik in sy 60’s, het Sondag laatoggend vermoedelik op ’n smal paadjie gegly en sowat 20 meter teen ’n steil helling afgeval. Die res van die groep van nege stappers het ná die voorval ’n nag op die berg oorgeslaap voordat hulle sonder hul medestapper na onder moes terugkeer.

Jon Sargood van die Mountain Club of South Africa se reddingsdienste het aan Maroela Media gesê reddingswerkers is Sondag omstreeks 11:30 ontbied. Dit was nie dadelik duidelik of die stapper die val oorleef het nie en ’n helikopter is ingespan om ondersoek in te stel.

(Foto: SAPD)

Daar is toe vasgestel dat die man nié die voorval oorleef het nie en die polisie is ontbied. Sargood het verduidelik dat ’n liggaam nie sonder die polisie se toestemming beweeg mag word nie en die liggaam is eindelik Maandag met behulp van ’n polisiehelikopter verwyder.

Die polisie sê soek-en-reddingspanne van Pietermaritzburg en Newcastle in KwaZulu-Natal asook die polisie se lugvleuel in Pretoria is ingeroep om die liggaam te bereik en te verwyder.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.