Stapper val na sy dood op Leeukop

‘n Uitsig vanaf Leeukop (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

ʼn Stapper is Sondag aan Kampsbaai se kant van Leeukop in Kaapstad dood toe hy gegly en geval het.

Volgens Johan Marais, woordvoerder van die Wildernis-soek-en-redding (WSAR), is hul reddingspan die oggend omstreeks 09:00 ontbied nadat hulle berigte ontvang het van ʼn stapper wat tydens ʼn staptog op die berg geval het. Sy medestappers het paniekerig geraak toe hulle hom nie meer kon sien nie.

Die departement van gesondheid het goedkeuring gegee dat ʼn noodreddingshelikopter van die Air Mercy Service (AMS) ingespan kan word om na die stapper te soek.

Die helikopter met  ʼn paramedikus en reddingswerker het vertrek na die presiese plek waar die stapper geval het om na hom te soek.

“Hulle het egter vasgestel dat die stapper noodlottige beserings opgedoen het. Hy is op die toneel dood verklaar,” sê Marais.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die man – wie se identiteit of ouderdom nog nie bekend is nie – op ʼn rots gegly en toe geval het. ʼn Dossier vir ʼn geregtelike doodsondersoek is geopen.

“Die polisie vermoed geen gemene spel nie,” sê Traut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Ek het nie geweet dat die dept. van Gesondheid toestemming moet gee dat die helikopter gebruik mag word nie, behalwe as hulle dit betaal? Het iemand dalk inligting hieroor?
Sterkte aan die familie en vriende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.