Stappers gered ná hoogwater hulle stuit

(Foto; WSAR)

Vier stappers is Saterdagmiddag na veiligheid gebring nadat hulle op ʼn berg in Houtbaai, Kaapstad, weens hoogwater gestrand was.

Volgens David Nel, ʼn woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), het die stappers omstreeks 10:00 van Llandudno in Kaapstad met hul staptog begin. Hulle was van plan om die Karbonkelberg-kuslyn oor te steek, verby die Boss 400-skeepswrak, en dan in Houtbaai te eindig.

Die hoogwater het egter hul planne in die wiele gery.

“Die hoogwater het die stappers teen ʼn berg opgedwing, waar hulle verdwaal het terwyl hulle na ʼn staproete, hoog bo die kuslyn, gesoek het,” sê Nel.

Nooddienste is omstreeks 16:55 oor die gestrande stappers ingelig.

“Terwyl grondspanne by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se basis op Houtbaai byeengekom het, is ʼn klein reddingspan met ʼn helikopter van Air Mercy Service (AMS) die berg opgestuur. Die stappers is opgespoor en die reddingspan, onder wie ʼn paramedikus en reddingsklimmer, is na die gestrande stappers afgehys.

(Foto; WSAR)

“Die stappers is omstreeks 18:37 van die berg se rand na ʼn landingsone by Houtbaai se NSRI-basis afgehys. Hulle was vol skrape soos hulle deur die dig beboste gebied op die berg gestap het.”

Die stappers was baie hoog op die berg en volgens Nel was daar geen manier dat hulle met hul staptog sou kon voortgaan nie.

“Dít is ʼn baie uitdagende staptog langs die kuslyn. Die paadjie is plek-plek erg weggekalwe, met steil blootgestelde gedeeltes. Die gety beïnvloed toegang tot verskeie dele van die roete, so noukeurige beplanning is nodig.”

Die WSAR vra stappers om op hul staproetes te bly en seker te maak hulle het ʼn flits en warm klere byderhand.

“Ontbied hulp indien jy bekommerd of onveilig voel.”

Die WSAR moedig stappers wat in die moeilikheid beland aan om hulp te ontbied by 021 937 0300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.