Stappers maak gru-vonds in Bainskloofpas

bainsk-1

Die polisie het ʼn span van ER24-nooddienste, die Worcester metro-polisie, forensiese patologiedienste en die Breede-vallei se brandweerdiens saamgestel wat die gebied gefynkam het. Foto: Verskaf.

Die geraamtes van twee mense is Saterdag langs die Bainskloofpas naby Wellington in die Wes-Kaap gevind.

Stappers het op die oorskot afgekom en dadelik die Wellington-polisie ontbied. Die polisie het ʼn span van ER24-nooddienste, die Worcester metro-polisie, forensiese patologiedienste en die Breede-vallei se brandweerdiens saamgestel wat die gebied gefynkam het. Die span het Maandagoggend op twee uitgebrande voertuie afgekom, ʼn paar meter onder die wal van die pas, ongeveer 10 kilometer vanaf die Calabash Bush-kroeg.

“Volgens reddingswerkers is albei voertuie, ʼn motor en ʼn bakkie, heeltemal uitgebrand. Geen liggame is binne die voertuie gevind nie. Hulle het hul soektog voortgesit en op die gedeeltelike oorblyfsels van twee mense afgekom ʼn paar meter van die voertuie af,” het Werner Vermaak, woordvoerder vir ER24-nooddienste gesê.

Die reddingswerkers het geen identifikasiedokumente op die toneel gevind nie en die geslag van die geraamtes kon nie bepaal word nie. Dit is ook nog nie seker hoe die voorval gebeur het nie.

Volgens Vermaak is daar nog baie onsekerheid oor die toneel. “Ons kon nie vasstel of die voertuie van die pad gery het nie en of beide voertuie in dieselfde ongeluk betrokke was nie. Geen ongelukke of vermiste persone is ook in dié omgewing aangemeld nie.”

Vermaak het gesê die toneel is solank aan die Worcester-polisie oorhandig en hulle sal die ondersoek voortsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Alida ·

Hoe is dit moontlik. Hulle mense moes hulle tog as vermis aangemeld het.

grotman77 ·

Laasjaar is daar ook n geraamte op Bainskloof gevind- Mei 2015 net ons Berg brand maar het geen berig ooit van dit gelees nie … In die jaar was daar n half uitgebrande liggaam naby Brandewyn draai gevind

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.