Stappers met hommeltuig gered

(Foto: WSAR, Facebook)

’n Toeris en ʼn toergids wat op ’n staproete in Kaapstad verdwaal het, is Dinsdag gered danksy ’n hommeltuig wat deur die reddingspanne ingespan is.

Die 29-jarige toeris en haar gids het tydens ’n staptog by India Venster – op pad na Kloof Corner – op Tafelberg verdwaal.

Die Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is ontbied toe die stapper en gids besef dit is nie meer veilig om met die roete voort te gaan nie.

Reaksiekoördineerder, Tim Lundy, het in ’n verklaring van WSAR gesê die inligting wat die reddingspan van die gids ontvang het, daarop gedui het dat hulle op Cairn Buttress in die omgewing van Kampsbaai is.

(Foto: WSAR, Facebook)

“In ’n noukeurig gekoördineerde reaksie is spanne na ’n opstelpunt gestuur, terwyl die hommeltuig-span die presiese ligging van die toeris en gids bepaal het,” sê Lundy, wat self op die toneel was.

“Die hommeltuig het die stappers binne tien minute opgespoor. Ons het hulle op hul selfoon gebel en hulle in kennis gestel waar die hommeltuig in verhouding tot hul ligging is.

“Toe ons hulle opspoor, kon die hommeltuig belangrike inligting oor hul ligging verskaf. Die hommeltuig-span kon die presiese GPS-ligging van waar die toeris en gids is aan die res van die reddingspan verskaf.”

Na oorweging van die inligting wat deur die hommeltuig verskaf is, is ’n besluit geneem om die Wes-Kaapse departement van gesondheid en Air Mercy Service (AMS) se helikopters te ontbied om die stappers te red.

“’n Reaksiebeampte is met harnasse en veiligheidstoerusting na die toneel gestuur. Die stappers is toe van die berg in die helikopter gehys en na ’n aangewese landingsone gevlieg.”

Die hommeltuig is van enorme hulp vir die WSAR om stappers vinniger op te spoor, sê Lundy.

“Dit stel ook die reaksiebeamptes in die veld beter in staat om reddingsoperasies te beplan en te implementeer, gebaseer op die beelde en video wat ons van die hommeltuig ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Vergelyk dit nou met die GPS’e wat die boere tydens die Groot Trek met ossewaens oor die Drakensberge gebruik het.

Manie ·

Dit kos duisende rande om stappers telkens vanaf Tafelberg te gaan red. Laat hulle ‘n stywe boete betaal vir hulle onverskilligheid.

Sandra ·

ek sal nie weer van daardie toergids gebruik maak nie, Dankie, maar nee dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.