Stappers met panga aangeval en beroof

Die area waar Loots en sy vriende aangeval en beroof is. Foto's is verkry van Google Earth.

Die area waar Loots en sy vriende aangeval en beroof is. Foto’s is verkry van Google Earth.

SANParke het aangekondig dat hy ʼn groot soektog van stapel gestuur het nadat twee mans die naweek vier stappers met ʼn panga aangeval en beroof het in die Tafelberg Nasionale Park.

Merle Collins, woordvoerder van die park, het gesê die area waar die voorval plaasgevind het, word daagliks deur veldwagters gefynkam in ʼn poging om die verdagtes vas te trek. Volgens Collins was Saterdag se voorval die tweede van sy soort in minder as drie weke en in dieselfde omgewing. “In die stadium is die beskrywing van die aanvallers in die twee voorvalle nie dieselfde nie en word die moontlikheid uitgeskakel dat dit dieselfde oortreders is.”

Bernard Loots (35) en drie vriende het Saterdag die Hoerikwaggo-roete gestap toe twee mans uit die bosse gespring en hulle voorgekeer het in die Constantianek-omgewing. Een van die mans het ʼn panga gehad en Loots se een vriend met die plat kant oor die kop geslaan. Die groep is onder meer van hulle selfone en beursies beroof.

Loots het vir ses jaar in Nederland gewoon en het tydens die Krieketwêreldbekertoernooi in 2011 vir dié land se nasionale span uitgedraf. Hy het twee jaar gelede na Suid-Afrika teruggekeer en woon in St. James in Kaapstad.

“Die aanvanklike skok is verby,” het Loots aan Maroela Media gesê. “Dit is nou meer gevoelens van kwaad en gedagtes van wat ons anders kon doen… maar daar was niks nie. Ons was twee mans en twee vrouens, ongewapen, in die middel van die berg met niemand naby om ons by te staan nie. As ons moes baklei, was daar nêrens hulp nie… Dit laat mens besef hoe onveilig dit eintlik is.”

Loots en een van sy vriende vergader intussen volgende week met die bestuur van die park om hul besware oor die voorval te kenne te gee. “Ek het reeds vir hulle genoem dat die area ʼn ‘fantastiese’ plek vir aanvalle is. Die meerderheid stappers in die gebied is mense wat die meerdaagse Hoerikwaggo-staproete volg, so hulle het almal groot rugsakke met persoonlike besittings, omdat jy op verskillende plekke in die berg oorslaap.

“Die diewe is dus verseker van ‘n goeie vangs. As daar geen stappers is nie, is daar genoeg fietsryers wat daar verbykom op die teerpad om aan te val. Ek het na die aanval van iemand by die Bergklimklub verneem daar was die laaste jaar omtrent vyf aanvalle in die area. Dit maak dit net nog erger dat hulle ons nie eers gewaarsku het nie, want dan sou ons heelwaarskynlik ‘n ander pad gevat het,” het hy bygevoeg.

Paddy Gordon, die park se bestuurder, het die aanval ten sterkste veroordeel en het die publiek verseker dat alles moontlik gedoen word om die skuldiges vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SNEL ·

Wat so hartseer is, is dat Suid Afrika die mooiste land is, met die beste klimaat en wonderlikste plekke om te besoek, en die kersie op die koek is die groot vyf wat mens net daar kry, MAAR; daarvan kan jy niks benut nie, want jou lewe is oral in gevaar. Dis so n wonderlike land, maar ons moet in tronke bly en kan niks geniet nie. Dis baie hartseer.

Elizabeth ·

Sjoe en ek wou twee weke gelede so graag afgestap het (op met kabelkar en af stap) toe ons in die mooie Kaap was. Gelukkig het my man ‘n voetprobleem gehad en kon ons nie. Mens moet lyk my bewapen met ‘n AK47, twee gewapende wagte om jou en, en en… sulke dinge aanpak. Dis regtig ‘n skande dat sulke goed gebeur. Baie baie sleg vir toerisme.

Jaco ·

Kan hy nie lees nie onosel rambo…. Dit was 2 mans en 2 vrouens….

Elizabeth ·

Ek wou ook nog sê hoe erg dit vir my is dat die aanval die tweede van sy soort was in minder as drie weke?! Liewe hemel wat word eintlik dan regtig gedoen vir mense wat die natuurskoon en buitelug wil geniet? Dalk moet hulle ‘n tipe alarmstelsel instel waarby elke persoon wat gaan stap vooraf ‘n tipe toestelletjie huur wat, sou hul aangeval word, vinnig ‘n knoppie druk wat eerstens ‘n hengse luide alram laat afgaan en ook by al die stasies op en onder die berg ‘n alarm afgee sodat daar dadelike aksie kan geneem word. Daar moet miskien langs die roetes ‘n paar waghuisies opgesit word ook met permanente wagte wat ook gou kan reageer. Maar ja, dit sal baie geld weer kos, uit ons arme belastingbetaler se sak natuurlik. Maar wat anders?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.