Staproetes oop ná Tafelberg-brand

ʼn Aantal staproetes is weer oop. (Foto: SANParks Table Mountain Nature Reserve/Facebook)

SANParke het Vrydag bevestig dat ʼn aantal staproetes in die Tafelberg Nasionale Park heropen is nadat gedeeltes van dié park in April vanjaar gebrand het.

Maroela Media het vroeër berig dat onder meer die Rhodes-gedenkteken en geboue van die Universiteit van Kaapstad in vlamme gehul was nadat ʼn brand aan die voet van Tafelberg uitgebreek het. Minstens 600 ha grond in die park het afgebrand.

ʼn Ondersoek het bevind dat dié brand doelbewus gestig is. Die hawelose man wat aanvanklik in hegtenis geneem is nadat hy glo daarvan verdink is dat hy die brand veroorsaak het, is sedertdien vrygelaat.

“Die rehabilitasie van die park het onmiddellik begin nadat die brand in bedwang gebring is. Drie maande ná die brand het die fynbos goed begin teruggroei en kan bergliefhebbers weer uitsien om hul gunsteling-staproetes aan te durf,” het Frans van Rooyen, parkbestuurder, gesê.

Kontrakteurs is aangestel om gebrande bome af te kap. (Foto: SANParks Table Mountain Nature Reserve/Facebook)

Die volgende gedeeltes van die park is oop vir die publiek:

  • Steengroewe
  • Duiwelspiek
  • Duiwelspiek se laer hellings
  • King’s Blockhouse
  • Rhodes-kontoerpad

“Ons vra mense egter om by die reëls te hou en afgebakende voetpaadjies te vermy, aangesien gedeeltes van die park steeds gerehabiliteer word.”

Weens die brande moet ʼn aantal bome egter uit die park verwyder word en sal die volgende plekke gesluit bly vir die publiek:

  • Die Rhodes-gedenkteken en landgoed
  • Game Camp
  • Deer Park

Van Rooyen sê SANParke het besluit om mense toe te laat om stukke van die dennebome wat kontrakteurs afsny, te bekom.

“Indien iemand belangstel om dennehout te bekom moet hulle die Kloofnek-kantoor kontak by 021 422 1601 of e-pos stuur na [email protected] om die nodige reëlings te tref.”

“Ons wil die publiek bedank vir hul volgehoue ondersteuning, geduld en samewerking tydens hierdie herstelproses,” het Van Rooyen gesê.

(Foto: SANParks Table Mountain Nature Reserve/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Mark my words: Rhodes Memorial sal nooit weer oopgemaak word nie. Dis mos “koloniaal” en “rassisties”. Dis dalk juis hoekom dié brand gestig is.