Statebondspele: SA ryg medaljes in

Cameron van der Burgh in aksie. Foto: AP Photo/Rick Rycroft

Span Suid-Afrika het Maandag hul goue medalje-oes by die 21ste Statebondspele binne ʼn uur van vier na agt opgeskuif.

Dié uur van swem- en atletiekdrama sal vir baie jare deur ondersteuners onthou en gekoester word.

Eers het Cameron van der Burgh verras deur goud in die 50 m-borsslag te wen. Van der Burgh was eerste in 26.58 sekondes met die gunsteling Adam Peaty (ENG) tweede in 26.62.

Tatjana Schoenmaker op die podium. Foto: REUTERS/David Gray

Tatjana Schoenmaker het met goud weggestap in die 200 m-borsslag (1:06.41). Dit was haar tweede goue medalje van die spele.

Chad le Clos het vir die eerste keer in die geskiedenis van die Statebondspele ʼn driekuns in die vlinderslag behaal toe hy ook goud in die 100 m gewen het. Le Clos het ook die Spele-rekord herskryf na 50.65 sekondes. James Guy van Engeland was tweede in 51.31.

Akani Simbine in aksie. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Op die atletiekbaan het Akani Simbine goud verower in die 100m met ʼn tyd van 10.03 sekondes. Dit was nie al nie, Henricho Bruintjies (10.17), het die silwer weggeraap voor gunstelinge soos Yohan Blake.

Christian Sadie het ’n silwer in die 50m-vryslag vir mans in die S7-klas gewen. Dyan Buis het ’n silwer medalje in die 100 m vir mans in die T27-kategorie gewen terwyl Charl du Toit kort op sy hakke was om brons te wen. Suid-Afrika se rolbalspan in die vroue-viertalkompetisie het ’n silwer medalje losgespeel.

Dyan Buis (links), Evan O’Hanlon en Charl Du Toit (regs) spog met hulle medaljes. Foto: REUTERS/Paul Childs

Suid-Afrika het Maandagoggend nog op nege medaljes gestaan (4-1-4). Teen Maandagmiddag het hulle skielik 18 medaljes (8-5-5) in die sakkie gehad.

Kliek hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ek is trots! ·

Sooo trots! k het gekyk wat ek kon en was wonderlik om ons atlete te sien presteer.

Wow Wow Wow ·

Baie baie geluk aan elkeen, Akani, wow ek is super bly vir jou!!!!! Chad na daai media fiasko is ek ook baie bly, Cameron, jy het dit nog man. Aan Charl en Dyan, welldone, jul harde werk en nederigheid gaan jul nog groot roem besorg.

Haan ·

Hoekom is daai swem span so wit?
Nee ek terg net! Knap gedaan! Doen so voort!

Alwyna ·

Welgedaan span SA! Julle het ons sooo trots gemaak. Wêreld het gister regop gesit na talle verrassings! Nou vir die res van die atletiekspan. Twee goud voorspel vir Caster…you go girl!

Boertjie ·

Daar is heelwat meer medaljes deur die rolbalspelers ingepalm as die silwer vir die vier dames. Maar nou ja, ons oumens-albasters tel mos nie as ‘n sport nie. Al was die jongste speler op die onder-15 en onder-20 nasionale toernooi in Bloem die afgelope maand, ‘n volle 8 jaar oud.

Klippie ·

Rolbal trek verseker aan die agterspeen wanneer dit by die erkenning kom. Baie geluk aan Colleen Piketh, Esme Kruger, Elma Davis, Nicoleen Neal & Johanna Snyman. Julle maak verseker ons outjies wat lief is vir rolbal baie trots en iemand om na op te kyk in rolbal veral vir die jong klomp wat nou in Bloemfontein gespeel het laas week. Dit is goed om te sien daar is soveel jong mense wat ‘n GROOT liefde vir die sport het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.