Statistieke SA-berekeninge misleidend

Foto ter illustrasie. (Foto: Steve Buissinne, Pixabay

Statistieke Suid-Afrika het hierdie week sy ekonomiese groeikoers vir die eerste kwartaal bekendgemaak en alhoewel dit positief is en beter lyk as wat verwag is, sê Fanie Brink, ʼn onafhanklike landbou-ekonoom, dat die prentjie baie slegter lyk as wat hulle voorhou.

Maroela Media het Dinsdag berig die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die eerste kwartaal van vanjaar met meer as 1,1% gegroei, vergeleke met die laaste kwartaal van 2020.

“Die geannualiseerde ekonomiese groeikoers wat Statistieke SA vir die eerste kwartaal van 2021 bekendgemaak het, beloop 4,5%. Dit is egter baie jammer dat hy met sy verkeerde berekeningsmetode steeds voortgegaan het om die kwartaallikse ekonomiese groei vir die eerste kwartaal te bepaal,” sê Brink.

Hy sê die regte groeikoers vir die eerste kwartaal vanjaar was in werklikheid -2,7%, wat ʼn regte aanduiding gee met hoeveel die ekonomie oor die afgelope jaar gegroei het. Dit is as die eerste kwartaal vanjaar met dieselfde kwartaal in 2020 vergelyk word.

“Dit is dus reeds ‘n jaarkoers wat nie geannualiseer hoef te word nie omdat dit met dieselfde kwartaal in 2020 vergelyk is. Dit sal presies die groeisyfer wees wat in ag geneem sal word wanneer die groeikoers vir 2021 bereken word.

“Verder was die private verbruiksbesteding -1,3% en die vaste kapitaalvorming (investering) was -13,4%, wat swak is en niks positiefs vir toekomstige groei inhou as dit nie verbeter nie.”

Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

Hy sê hoewel Statistieke SA aan die einde van verlede jaar besluit het om nie meer die kwartaallikse groeisyfers om te skakel na jaarlikse groeikoerse nie (te annualiseer deur die kwartaallikse groeikoers bloot met vier te vermenigvuldig), het hy nie voortgegaan om die aanpassing te implementeer nie.

“Indien ‘n kwartaal met dieselfde kwartaal van die vorige jaar vergelyk word sal dit min of meer met dieselfde seisoene ooreenstem en dan sal seisoenale aanpassing nie nodig wees nie.

“Die gevolgtrekking wat nou gemaak moet word, is dat die groeisyfer van 4,5% vir die eerste kwartaal totaal verkeerd is, terwyl Statistieke SA steeds verwag dat almal moet voortgaan om hierdie syfer te gebruik. Die berekening van die kwartaallikse groeikoers kan volgens Statistiek Suid-Afrika op vier verskillende maniere bereken word, maar dit sal baie verwarrend en misleidend wees en daarom sal slegs die regte berekeningsmetode aanvaarbaar wees.”

In ʼn berig wat Maroela Media eergister gepubliseer het, het Agri SA verduidelik dat seisoenale verskille ook in gedagte gehou moet word as jy opvolgende kwartale wil vergelyk, maar wat dan nie nodig sal wees as dieselfde kwartale met mekaar vergelyk word nie. “Die vergelyking van ‘n kwartaal met die voorafgaande kwartaal is ‘n aanduiding van presies niks nie.”

Brink sê verder dat byna alle landbouvertakkings seisoensgebonde is, wat die vergelyking van opeenvolgende kwartale onrealisties maak weens die hoë kwartaallikse klimaatswisselvalligheid wat ook selfs ’n beduidende invloed op sommige van die ander bedrywe in die ekonomie kan hê.

“Die geannualiseerde kwartaallikse groeikoers kan nog minder ’n aanduiding wees van die verwagte jaarlikse groeikoers as dit nie oor die volgende kwartale volgehou sou word nie en daarom is dit in werklikheid nutteloos en misleidend omdat dit op ʼn totaal verkeerde aanname berus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Het nog nooit enige statistiek van SSA geglo nie, hulle kleur altyd ‘n beter staatsprentjie in as wat werklik die geval is.

Mrs H

Logieka se vir my … die ‘Jan Allerman’, dat as die kriminele syfers en werkloosheid statistieke op is, is dit onmoontlik dat enige ekonomie op enige vlak in SA gegroei het – het altyd agterdog en twyfel in die syfers wat vrygestel word. (Veral met Covid saam) Dit maak net nooit logies sin nie?! So ook die waarde van ons Rand….

Jacobus

SSA bereken ook seker die verwarrende Covid berekeninge.

Rian

Hulle het seker almal mancosa grade.

Andries

Die 30 persent in wiskunde kom nou na vore. 1+1= eish.