StatsSA-raad dreig om te bedank weens geldtekort

(Grafiek: pixabay)

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) sê as daar nie binnekort gehoor gegee word aan sy jare lange pleidooi vir meer geld nie, gaan sy raad bedank.

“StatsSA se raad het eenparig besluit om ʼn beroep op die regering te doen om gehoor te gee aan sy oproep vir meer geld vir die instelling. Indien hy dit nie doen nie, gaan die raadslede hul steun vir amptelike statistieke onttrek en bedank,” het prof. David Everatt, raadsvoorsitter, Dinsdag gesê.

Everatt sê StatsSA is op ʼn kantelpunt en as die land dié “robuuste en innoverende” instelling wil behou, sal die regering sy sokkies moet optrek.

“As StatsSA nie poste met vaardige mense kan vul, steekproefgroottes kan volhou en innoverend kan optree nie, gaan die raad gedwing word om sy steun aan amptelike statistieke te onttrek. Dit is die slegste uitkoms denkbaar vir Suid-Afrikaners, maar die raad kan die vrystelling van betroubare data goedkeur, óf die raad kan ontbind omdat ons nie data gaan goedkeur wat ons wantrou nie.”

In 2015 het die regering die instelling se begroting met R160 miljoen gesny en alle poste gevries. Talle werkers doen gevolglik nie net hul eie werk nie, maar ook dít wat gewoonlik deur kollegas gedoen sou word. ʼn Ses of selfs sewe dag lange week is algemeen.

“Die vries van poste beteken daar is geen bevorderingsmoontlikhede nie en geen vakante poste kan gevul word nie. Ambisieuse werkers soek dus buite StatsSA na loopbaangeleenthede en jong gegradueerdes sien StatsSA lankal nie meer as ʼn voorkeurwerkgewer vir nagraadse opleiding nie.

“StatsSA word gestroop omdat hy geen loopbaanmoontlikhede vir enige werkers bied nie en dít omdat die regering weier om sy houding jeens die begroting en die opskorting van poste te verander,” het Everatt gesê.

Volgens hom is die instelling nie ʼn “staatskaping-reddingsboeikandidaat” nie. StatsSA kry normaalweg skoon oudits en word wyd vertrou.

“Dit is bitter moeilik om te verstaan waarom ʼn gerespekteerde, betroubare en belangrike instelling, wat by die reëls hou en deur die ouditeur-generaal geloof word, wesenlik deur die regering gestraf word terwyl diegene wat by staatskaping betrek word massiewe reddingsboeie kry.”

(Foto: StatsSA)

Everatt sê die instelling is R46 miljoen vir 2020 beloof, maar dat dit ʼn pleister is wat nie die onvermydelike aftakeling van die instelling en die afname in die gehalte van amptelike statistieke kan regdokter nie.

Hy sê die instelling het koste weens die begrotingstekort tot op die been gesny. Steekproefgroottes word nou ook verklein, wat mettertyd tot al hoe groter foutmarges gaan lei.

“Bedrywighede word geprioritiseer, sommige bloot geskrap. Dit sluit in ʼn opname oor armoede, wat oënskynlik in ‘die klimaat te duur is’,” het Everatt gesê.

Hy sê die regering is besig om die hart van die instelling uit te ruk en die R200 miljoen wat StatsSA benodig, is maar ʼn druppel aan die emmer van die regeringhulp wat aan ander staatsinstellings uitgedeel word. Sensus 2021 is boonop om die draai.

Everatt sê as StatsSA nie akkurate, amptelike statistieke kan verskaf nie, gaan graderingsagentskappe die land straf, internasionale beleggers gaan hul heil elders soek, plaaslike sakeondernemings gaan geen betroubare beplanningsdata meer hê nie en ʼn afwaartse spiraal gaan onvermydelik wees.

Hy sê dit gaan haas onmoontlik wees om later weer die bestaande 80%-plus-vertroue in die instelling te herwin, maar om dit vol te hou gaan ʼn beduidende finansiële inspuiting nodig wees. “As die tesourie versuim om StatsSA behoorlik te finansier, gaan dit soos Hompie Kedompie moontlik nie weer aanmekaargesit kan word nie en die dekade lange opbou van die instelling post-1994 verlore wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
HOOP

SABS sommer nou onlangs by al die ander bygesit en gewonder kan daar nog wees , kan nie glo nou het nog een bygekom Stats SA , gaan dit ooit einde kry .

Willem

Dis moeilik om positief te bly in Suid-Afrika. Die ANC het nou omtrent alles vernietig.

twaalfboor

Wat sê die stats? Wie gaan volgende wees? LOL!!!!! BANANA republic of note.

Stefan

Joooohhh, is daar nog ‘n instelling wat werk in hierdie land?

RekmyBek

Sjoe!!!! Ongelooflik….