Steeds geen antwoorde twee jaar ná Pta-ma se dood

Marlien Erasmus Du Plessis. Foto: Verskaf

ʼn Gesin wag steeds op antwoorde twee jaar nadat die liggaam van ʼn 20-jarige ma in Pretoria in ʼn veld gevind is.

Marlien Erasmus Du Plessis se liggaam is op 16 April 2015 deur ʼn verbyganger agter ʼn sandhoop in ʼn veld by Danville, in die weste van Pretoria, aangetref. Haar liggaam was in ʼn kombers toegedraai en is op haar vierjarige dogtertjie se verjaardag gevind.

Sy is die ma van twee dogtertjies wat destyds onderskeidelik vier en vyf jaar oud was en het ʼn liefde vir dans en fotografie gehad.

Die Pretoria-Wes-polisie het ʼn saak van moord aanhangig gemaak in verband met Marlien se dood. Twee verdagtes is kort ná haar moord in hegtenis geneem, maar gou weer op borgtog vrygelaat vir verdere ondersoek. Die verdagtes het sedertdien nog nooit weer in die hof verskyn nie aangesien die polisie glo nog op bewyse wag.

“Dit is nou twee jaar ná haar dood en ons het steeds nie antwoorde nie,” het Denise Erasmus, Marlien se ma, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Erasmus het gesê hulle is nie tevrede met hoe die polisie die saak hanteer nie. Sy het gesê elke keer as sy die ondersoekbeampte by die Pretoria-Wes-polisiestasie bel, jak hulle haar af en sê net hulle wag nog vir bewyse van die polisie se forensiese laboratorium.

“Die polisie kan nie vir my sê hoe lank dit gaan neem om die uitslae van die toetse te kry nie. Hulle sê net dit kan lank vat, tussen drie tot sewe jaar. Dit is onaanvaarbaar, daar is mense wat ná my dogter dood is en hul sake is klaar opgelos.”

Erasmus het gesê hulle sal nie berusting kan vind voordat sy weet wat gebeur het en geregtigheid vir haar kind se dood geskied het nie. “Dit maak my baie seer om elke dag in my kleinkinders se oë te kyk en te weet die mense wat hulle mamma doodgemaak het, is nog nie in die tronk nie. Hulle loop vrylik buite rond en my kind is in ʼn graf.”

Konst. Mandlakayise Zwane, polisiewoordvoerder, het by navraag aan Maroela Media gesê die saak is steeds oop en word nog ondersoek. “Ons kan nie veel oor die ondersoek uitbrei nie aangesien die saak sub judice is en dit die ondersoek kan belemmer indien te veel inligting bekendgemaak word,” het Zwane gesê.

Zwane het Erasmus, en ander inwoners wat probleme met polisiebeamptes ervaar, aanbeveel om aan te dring om met die betrokke polisiestasie se bevelvoerder te praat om hul griewe te lug. As dié prosedure gevolg word en die inwoner is steeds nie tevrede nie, kan hulle ʼn afspraak met die bevelvoerder van die streek se polisiëringsgebied maak.

Zwane het gesê dit is die ondersoekbeampte se verantwoordelikheid om slagoffers se naasbestaandes deurlopend van die vordering van die saak op hoogte te hou.

Erasmus het onderneem om ʼn afspraak met die bevelvoerder van die Pretoria-Wes-polisie te maak.

Lees die vorige berigte oor Marlien Erasmus op Maroela Media.

Marlien Erasmus se graf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Christine ·

Ai toggie, ek hoop regtig die familie kry antwoorde op al hul vrae, sterkte vir die kinders ook.

Christell Nel ·

Soos alles gaan die meeste van die goed ten gronde. Soos die SAPD ook. Dis uiters swak!!!! Maak werk daarvan en gaan sien die grootste van grootkoppe as julle moet. Die saak sloer al so lank, en hoe langer hoe minder die kans dat dit ooit opgelos gaan word.

Seg maar net ·

As jy tyd het, gaan sit daar elke dag. En as jy geen hulp kry nie, vra om met “iemand hoër” te praat. En nog iemand en nog iemand. As hul sê hy is by ‘n ander kantoor, vra hul moet hom bel, jy wil met hom praat. Maaaak hul moeg!!

Privaat Speurder ·

Ek wonder wat het van die privaat speurder geword wat die familie aangestel het.

Gertjie ·

Daardie bevelvoerder is maar net so laks. My broer is in 2000 in Danville vermoor terwyl hulle gebraai het en ons is nog steeds in duister. Jy mors jou tyd met die SAP’s in Pretoria Wes.

lorayne ·

AMEN Gertjie! my kind is in Januarie 2016 vermoor in Pretoria Wes . . . daar is nerens eers ‘n inskrywing in die VB nie! Sterkte Denise, my hart gaan uit na jou, ek KEN jou seer!

Karma ·

Afriforum/Solidariteit – WAAR IS JULLE NOU??? Julle staan mos daarvoor dat julle Jan Publiek teen wanpraktyke soos hierdie verteenwoordig en beskerm. Hoekom is julle so stil – ook in die geval van die Pretoria KFC-6 en die Doodskis-2??? Het die regstelsel/polisie/ANC of ANC Lite julle stemme gesteel of is julle te besig om Mej. Engels by te staan???

Johan. H. ·

Kla daaie sogenaamde polisie lid siviel aan en dagvaar die staat ek sal met graagte gratis bydra,,, Wonder wie is die slegste die krimeneel of somige polisie lede,,,Gmffff

Anoniem ·

Dus mos nou n wit vrou hkm sal daar uets gedoen word maar druk kom in konflik dan doen hulle alles in hulle vermoe om die mense agter tralies te hou wat n regstelsel in die land

Bekommerd ·

Wil net sê my suster is in 2007 vermoor in Randfontein. Alle bewyse was daar van die persoon wat haar vermoor het, maar na ‘n jaar is hy vry gespreek oor onvoldoende “bewyse”. Ek wonder nog elke dag aan die moordenaar wat vrylik rondloop. Is daar dan niemand wat mens kan help nie. Die saak is maar net gesluit.

Ekke ·

Sterkte met di polisie. Hle is n nul op n kontrak. Ek het ondervinding van hulle!

Doris Gouws. ·

Ag mammie ek wil net vir jou sê sterkte ek is al sewe jaar besig en moenie eers praat van hulle forensiese afdeling nie dit is hopeloos wat moet n mens verwag as jy hoor hoe gaan dit in die Polisie HOPELOOS!!!!!!!!!!!

anton ·

Moet tog niks negatiefs sê van die polisie nie want daar is mos baie mense wat dink hulle is tops!!!
Al gedink hoe gaan die land wees oor nog so 5 tot 10 jaar???
Dis tyd om te trek!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.