Steeds geen antwoorde vyf jaar ná ‘Moedersdag-moord’

‘n Jonger Annetjie Kruger (Foto: Verskaf)

“Dit is ’n oop wond en my pleisters raak klaar.”

Só sê die kleindogter van Annetjie Kruger (89) wie se liggaam vyf jaar gelede op Moedersdag met ’n snywond aan haar keel in haar kerkklere op die vloer van haar woonstel in Orkney in Noordwes aangetref is.

Ná enkele uitgestelde hofverskynings en eindelik ’n teruggetrekte saak teen die buurman, kon Kruger se familie nog hoegenaamd geen antwoorde vind rakende die noodlottige dag in Mei 2016 toe hul ouma, ’n jare lange inwoner van Orkney, skielik weggeruk is nie.

Die saak is eers onttrek en later weer op die hofrol geplaas, maar is steeds nie afgehandel nie.

“Mense bel my en vra uit oor die saak en ek weet nie wat om te sê nie. Wat kan ek sê?” sê Amor Adlem oor haar ouma se moord.

“Ek wil net hê die saak moet tot ’n punt kom. Dit gaan nie verander wat gebeur het nie, maar ons sal kan genees ná die trauma. Dit bly soos ’n oop wond.

“Ek kan Ouma nie vergeet nie. Sy is elke dag in my gedagtes.”

Kruger se liggaam is op 8 Mei 2016 in haar kerkklere op die vloer van haar slaapkamer aangetref.

Annetjie Kruger (links), haar kleindogter, Amor Adlem, en dogter, Thea Pringle. Foto: Verskaf.

Adlem en haar ma, Thea Pringle, het die betrokke dag onraad bespeur toe hulle haar nie in die hande kon kry om haar ’n gelukkige Moedersdag toe te wens nie.

Hulle het vermoed iets is fout toe van die kerk se gemeentelede ook navraag gedoen het toe Kruger dié Sondag nie oudergewoonte in die kerk was nie.

Haar liggaam is later daardie middag gevind nadat die polisie ontbied is om haar woonsteldeur oop te breek. Kruger se klein televisiestel met ’n haasoor-antenne, ’n selfoon ter waarde van skaars R300, haar beursie en motor is gesteel.

Maroela Media het vroeër berig Kruger se uitgebrande motor is destyds in ’n stuk veld naby die dorp gevind en Jan Rheeders (31) is in verband met sy buurvrou se moord in hegtenis geneem. Kruger het glo gereeld vir hom geld geleen. Rheeders is kort daarna op borgtog vrygelaat en die landdros het later gesê die staat het nie ’n sterk saak nie.

Die aanklagte teen Rheeders is eindelik teruggetrek.

Adlem sê sy en haar ma is destyds gevra om in die hof te getuig. Hulle is egter nooit na die getuiebank geroep nie en die saak sloer steeds. Van ’n verhoor was daar nog geen sprake nie.

Adlem sê sy wil berusting vir haar ma, Kruger se enigste kind, se onthalwe vind.

“Dit is moeilik om nie vir my ma antwoorde te kan gee nie. Ons berus daarin dat daar ’n groter plan is, maar daar is ’n leemte. Dis soos ’n deur wat oopstaan en jy kan net nie rustig word nie.

“Ek voel magteloos. Dit is jy teen die staat …”

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het vandeesweek by navraag aan Maroela Media gesê die saak is aanvanklik onttrek weens onvoldoende bewyse. Die betrokke advokaat by die direkteur van openbare vervolging (DOV) se kantoor en die aanklaer wat die saak hanteer, het egter ná deeglike beraadslaging besluit om die saak weer op die rol te plaas.

Mamothame sê volgens die stasiebevelvoerder in Orkney is daar ’n verdagte in die saak en ’n lasbrief is vir die verdagte se inhegtenisneming uitgereik.

Adlem sê sy koester intussen die herinneringe aan haar ouma.

“As ek aan haar dink, dink ek aan die Here, lig en liefde. Sy sou nooit iemand skade aandoen nie. Sy was net goed vir almal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charles

Kry vir Gerrie Nel en Afriforum om vir julle die saak terug op die hofrol te plaas.

Johanna

Kry vir Mike Bolhuis om die ondersoek te doen.. Jy sal.hom op Google kan opspoor. As hy byt.los hy.nie…

Melli

Het di tannie goed geken, ek hoop en bid daar kom antwoorde! Sterkte julle

Nico

Ek wonder of hierdie moord saak ooit terug geplaas op die hof rol, as dit so is wat maak die polisie.