Steeds geen besluit oor Mahumapelo-opvolger

Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Die ANC kon nie daarin slaag om tydens sy drie dag lange vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) op ʼn opvolger te besluit vir die voormalige premier van Noordwes, Supra Mahumapelo, nie.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die drie dae was nie genoeg tyd om organisatoriese sake uit te sorteer nie en daar is besluit op ʼn spesiale vergadering waartydens problematiese provinsies soos Noordwes en KwaZulu-Natal bespreek sal word.

“Dit sal ons meer tyd gee om aandag te gee aan alle kwessies en organisatoriese verslae van ons NUK-afgevaardigdes in die provinsies, veral in Noordwes. Ons wil benadruk dat wanneer ons besin, ons met oplossings vorendag kom en kwessies uitklaar,” het Magashule aan verslaggewers gesê.

Hy het gesê die drie kandidate wat deur die Noordwes- provinsiale uitvoerende komitee van die ANC voorgestel is om Mahumapelo op te volg, is nie voldoende bespreek nie weens beperkte tyd. Volgens mediaberigte is die drie kandidate OJ Tselapedi, Manketsi Tlhape en Sussana Dantjie.

Die NUK het egter glo besluit dat nie een van dié kandidate geskik is nie aangesien hulle almal glo bondgenote van Mahumapelo is.

Mahumapelo het verlede week bedank nadat hy lank onder druk was om sy pos te ontruim weens gewelddadige betogings in die provinsie. Mahumapelo is steeds voorsitter van die ANC in Noordwes.

Pres. Cyril Ramaphosa het die provinsiale regering in Noordwes vroeër vandeesmaand onder administrasie geplaas.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juffrou ·

Problematiese provinsies, Ace?? Wat van jou eie Vrystaat?? Huh??

Hoeveel ANC lede vat dit om... ·

Hoeveel ANC lede en vergaderings vat dit om een enkele regte besluit te maak? Hulle is n grap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.