Steeds geen borgtog vir Pofadder-vrou

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

Suretha Brits (30), weduwee van die vermoorde hotelier Leon Brits, is wéér borgtog geweier. Dit nadat sy teen ʼn uitspraak deur die landdroshof op Pofadder om haar nié op borgtog vry te laat nie, geappelleer het.

Dié aansoek is Vrydag in die hooggeregshof in Kimberley aangehoor.

Regter Lawrence Lever het Woensdag tydens die uitspraak gesê Brits kon nie voldoende buitengewone omstandighede voorhou oor waarom sy op borgtog vrygelaat moet word nie.

Brits se regsverteenwoordiger, Sharon Erasmus, het Vrydag aangevoer dat Brits in belang van haar kinders op borgtog vrygelaat moet word. Volgens die prokureur trek die kinders, ʼn dogter (12) en tweelingseuns (10), emosioneel swaar en sal dit in belang van die gemeenskap wees dat die kinders by hul ma moet wees.

Sy het ook aangevoer dat Brits nie ’n vlugrisiko inhou nie.

Deon Nell, ’n kenner in strafreg, sê die erns van Brits se misdryf – moord met voorbedagte rade – en die staat se sterk saak teen haar het uiteindelik swaarder geweeg as haar persoonlike omstandighede.

Die staat het vroeër aangevoer dat Brits met staatsgetuies ingemeng het en daarom onder geen omstandighede vrygelaat kan word nie. Volgens die staat het Brits haar vriendin, Lize-Marie Fouché, wat ’n staatsgetuie is, ontmoet nadat die polisie vir Brits instruksies gegee het om nie met enige van die staatsgetuies kontak te maak nie.

Leon Brits is op 7 Oktober wreed vermoor waarna sy liggaam in die swembad van die egpaar se huis gegooi is. Brits het later op Leon se lyk in die swembad afgekom.

Maroela Media het vroeër berig daar word beweer dat Brits derduisende rande betaal het om Leon te laat vermoor en glo ook die hele moord haarfyn beplan het. Dié inligting het uitgekom tydens die pleitooreenkoms wat Jacques van Vuuren (34) in Maart met die staat aangegaan het.

Van Vuuren, Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) is oorspronklik vir Leon se moord in hegtenis geneem. Brits is op 29 Maart ook in hegtenis geneem.

Brits, Williams en Bareki sal na verwagting van 15 November tot 3 Desember in die hooggeregshof in Upington verhoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Realis Thailand ·

Hulle is die arme mense wie die meeste gaan swaarkry
Dan haar ouers en sy ouers en al die ander familie
Vir haar ek ek geen simpatie n vrou wie haar man weggeneem het van sy kinders
Het sy sowaar gedink sy gaan wegkom daarmee.
As sy skuldig bevind word is dit 25 jaar wat haar kinders haar nie kan he as n moeder nie
n Tragedie deur n mens wie nie gedink het nie

Androclus ·

Moord met voorbedagte rade-15 jaar plus is op haar bors ,dit kan sy maar verwag.

Hendrik Marthinus ·

Stem Sy gaan lank sit, want die ding is beplan.
Al wat ek regtig bekommerd is oor, is sy skuldig jong.
Dus sekerlik nie lekker om so te sit en almal van ons het haar klaar skuldig bevind nie.
Haar kinders Dink seker ook Mamma het pappa dood gemaak.
Joh dus vreeslik sleg.
Dai Arme kinders is permanente skade opgele, irrespective van wat in hof gebeur.

Annelize ·

Sy moes aan haar kinders se emosionele welstand gedink het toe sy die moord beplan het. Sy het niks buite die tronk verloor nie.

Elinette ·

Ek sien jy is sommige, judge, jury en al daai dinge “all in one”. Wat het geword van ‘onskuldig tot skuldig bewys’?

Elize ·

Die kinders kry ek jammer maar hulle is beter af dat sy nie kom en gaan. Dit sal makliker vir hulle wees. Al is sy hulle ma gaan hulle dit wel uitvind as hulle nie reeds het nie dat sy die moordenaar van hulle pa is en ek dink dis net so moeilik vir hulle. Al daardie emosies.

Casper ·

Ek voel jammer vir die kinders want hulle kry die swaarste maar war gaan van hulle word as hulle ma tron toe gaan.Dit is die pad wat sy gekies het so sy moet hom stap.

Cherokee ·

As sy werklik skuldig is, pas die woorde ‘haarfyn beplan’ defnitief nie. Want die beskrywing van die beplanning klink lomp. Soveel mense daarby betrek is alles behalwe ‘haarfyn beplanning’. Hopelik is sy nie skuldig nie.

Sarel ·

Beslis ne voorstaander van borgtog nie. Tog lyk vir wie
Borg toegestaan word dan wonder jy.
Baie selektief sou ek sè

Kathleen ·

Ek hoop sy het familie wat na haar kinders omsien , altyd die kinders wat daar onder ly . Sy hou die kinders voor as rede om borg te kan kry maar hoekom het sy nie aan die kinders gedink toe sy hierdie moord beplan het nie .

SjN ·

Sy moes vooraf daaran gedink het, spyt kom te laat, verstaan nie hoe sy dink sy gaan daarmee wegkom nie, skei eerder, geld het seker n rol gespeel.

Klipkop ·

Indien die getuienis tor dusver waar is, is die kinders veiliger sonder haar. Hoop dan hulle het ‘n goeie oupa en ouma of familielid wat hulle seer kan help beter maak, want daardie wond sal nie net oornag verdwyn nie.

charlotte ·

Ek mag verkeerd wees maar haar kinders is veilig en lewend sonder haar. Wie weet wat sy dalk kan aanvang sodra sy borg kry. Sy weet sy gaan tronk toe. Ek voel regtig jammer vir die kinders.

Elinette ·

As ek dit reg het, na ‘n algemene gesprek met ‘n regskundige onlangs, word borgtog hoofsaaklik deur twee goed beïnvloed: (1) die vlugrisiko van die aangeklaagde en (2) bevestiging van ‘n vaste woonadres. Die aard van die beweerde misdaad speel glo geensins ‘n rol nie. Nou waarom kan ánder moordverdagtes dan borgtog kry en dié vrou nie?

melW ·

Die kinders is so verward en onskuldig, hulle pa is nie meer by hulle nie, ń verskriklike tragedie en met hul ma nog in die tronk ook, hoe kon sy hulle pa wat ń fondasie vir sy kinders was so koelbloedig laat dood maak? Hierdie kinders gaan letsels dra maar ek bid dat die huis waar hulle nou woon ń hawe sal word met baie liefde. Ń mens behaal ń prys of betaal ń prys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.