Steeds geen borgtog vir verpleër wat glo moor

Azwidohwi Enoch Ndou (52) tydens sy hofverskyning. (Foto: NVG)

ʼn Verpleër van Limpopo wat teregstaan op sewe aanklagte van moord, se aansoek om borgtog is van die hand gewys.

Azwidohwi Enoch Ndou (52) word daarvan beskuldig dat hy sy twee broers, vier kinders en een van die broers se swanger vrou kort ná middernag op 25 Desember in die Jimmy Jones-nedersetting in Malamulele doodgeskiet het.

Ndou het in sy borgtogaansoek getuig hy is ʼn professionele verpleër by die Mahikeng-hospitaal en dat hy sy werk en bates kwyt sou wees indien hy in aanhouding moet bly. Hy is ongetroud en het geen kinders nie.

Die staat het sy aansoek teengestaan. Volgens een van die staatsgetuies is Ndou se lewe in gevaar weens inwoners van die gebied se woede oor die moorde. Hulle het na die Malamulele-landdroshof opgeruk waar hulle gedreig het om die hofgebou, polisiestasie en ʼn inkopiesentrum te verwoes indien Ndou op borgtog vrygelaat word.

Volgens die staatsgetuie is nie eens Ndou se broer bereid om saam met hom by dieselfde adres te woon nie.

Die hof het Ndou se borgtogaansoek verwerp en gesê hy het geen wesenlike feite voorgelê wat borgtog sou regverdig nie. Dit is volgens die hof ook in die belang van geregtigheid dat hy weens die gemeenskap se woede in veilige aanhouding bly.

Mashudu Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, sê Ndou is in hegtenis geneem nadat hy na die Thohoyandou-polisiestasie is waar hy ʼn saak aanhangig wou maak teen familielede wat glo sy vuurwapen wou vat. Daar is kort daarna vasgestel dat hy glo sewe mense doodgeskiet het.

Die saak teen hom is tot 22 April vir verdere ondersoek uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maritza ·

Hy staan terug op moord en bekommer hom oor sy werk? Lagwekkend.

Swerwer ·

Is reg. Hoe op aarde kan daar verwag word dat borgtog toegestaan word vir sulke gruwel dade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.