Steeds geen droogtehulp vir Oos-Kaapse boere

Die droogte teister sedert 2015 veral die westelike gebiede in die Oos-Kaap, waaronder die Nelson Mandela- en Sarah Baartman- munisipale gebiede (Foto: Verskaf)

Boere in droogtegeteisterde gebiede in die Oos-Kaap het sedert die situasie ʼn maand gelede tot nasionale ramp verklaar is, nog nie ʼn enkele sent vir droogtehulp ontvang nie. Dít ondanks talle versoeke aan Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, om droogtegeteisterde boere in die provinsie te help.

Dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, het op 20 Julie die droogte in sekere gebiede van Suid-Afrika tot nasionale ramp verklaar. Die aankondiging is ook in die Staatskoerant gedoen.

Dele in die suidelike en westelike gebiede van die Noord-Kaap, asook dele van die Karoo en die Klein-Karoo, gaan vir die afgelope paar jaar al onder erge droogte gebuk.

Die droogte teister sedert 2015 veral die westelike gebiede in die Oos-Kaap, waaronder die Nelson Mandela- en Sarah Baartman- munisipale gebiede.

Volgens Retief Odendaal, DA-LP in die Oos-Kaap, is die huidige droogte in die provinsie verreweg die felste wat tot dusver aangeteken is. Baie boere is reeds finansieel daardeur geruïneer. Dit is ʼn groot rede tot kommer omdat landbou een van die provinsie se grootste bydraers tot die ekonomie is.

Volgens Odendaal het die provinsie in Oktober 2019 laas ʼn ramptoestand afgekondig en net R74 miljoen in noodgeldhulp is aan boere beskikbaar gestel. “Die bedrag was so onvoldoende dat die meeste boere, wat reeds ondersteuning van die regering nodig gehad het, niks ontvang het nie,” sê hy.

Die droogte se wurggreep op die provinsie het sedert 2019 boonop vererger.

“Ondanks goeie reënval oor sekere gebiede bly damvlakke gevaarlik laag. Die watertafel het in sekere gebiede ook reeds so laag gedaal dat talle boere nou met droë boorgate sit.

“Die katastrofiese droogte het ook ʼn wesenlike uitwerking op stedelike waterverskaffing in munisipaliteite soos Nelson Mandelabaai, waar damvlakke nou net op 11,8% van die algehele kapasiteit staan.”

Odendaal sê boere in gebiede soos Aberdeen, Graaff-Reinet, Willowmore en Steytlerville voer noodgedwonge al vir ʼn geruime tyd lewende hawe en kan dit in baie gevalle net nie verder bekostig nie.

“Die langdurige voer van lewende hawe is onbekostigbaar vir die meeste boere in die Karoo en dus verkeer hulle onder geweldige finansiële druk. In sekere gevalle het boere reeds hul boerderye verkoop. Ander moes spaargeld soos aftree-annuïteite begin gebruik, of selfs verdere verbande op hul grond uitneem om sodoende genoeg geld te bekom om hul boerderyondernemings aan die gang te hou.”

Volgens Odendaal is pleidooie vir ondersteuning grootliks deur die provinsiale en nasionale regerings geïgnoreer.

“Premier Mabuyane se onbereidwilligheid om op te tree, is skandalig. Sy sogenaamde droogtebeheersentrum verlig glad nie die krisis nie. Verder is geen provinsiale begrotingsaanpassings nog gemaak om geld beskikbaar te stel vir dié wat dit benodig nie.

“Die DA daag Mabuyane uit om dringende aanpassings tot die provinsiale begroting te maak sodat broodnodige finansiering onmiddellik beskikbaar gestel kan word. Ons sal ook ʼn pleidooi tot pres. Cyril Ramaphosa rig en vra dat hy direk toetree tot die ontvouende krisis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Dit is wat gebeur as daar op die ANC regering staatgemaak moet word vir hulp maar die boere betaal baie belasting in goeie tye ,net nog n rede hoekom ons n onafhanklike tuisstaat moet kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.