Steeds geen geregtigheid ses jaar ná moord

(Argieffoto)

“Ek moes ’n lang en verbete stryd om geregtigheid voer.”

Só vertel die 58-jarige dogter van Genée Bergs (70) wat na bewering in 2014 deur haar man, Dieter Bergs, in haar huis in die Johannesburgse spogbuurt Parktown-Noord vermoor is.

Die saak sloer al vir meer as ses jaar.

Die dogter, wat gevra het dat haar naam nie genoem word nie, het intussen AfriForum se private vervolgingseenheid genader om te help verseker dat geregtigheid geskied.

Bergs is in Maart 2014 op haar bed in haar slaapkamer doodgeskiet. Sy is twee keer in die bors getref. Dieter is ten tyde van die voorval in die heup gewond en is in die hospitaal opgeneem.

Dieter het glo volgehou dat dit ’n rooftog was wat skeefgeloop het.

“’n Paar van my ma se vriende het ná haar moord na my toe gekom en gesê dat my stiefpa agter die moord sit. ’n Saadjie is toe in my gedagtes geplant,” vertel die dogter.

Volgens haar kon die polisie nooit bewyse vind wat daarop dui dat die voorval wel ’n rooftog was nie.

“Geen besittings is daardie aand gesteel nie. Haar handsak wat langs haar bed was en haar selfoon wat óp die bed gelê het, was steeds daar.”

Ná ʼn ondersoek in die landdroshof in Johannesburg is die moordwapen met Dieter verbind en hy is in September 2014 in hegtenis geneem.

Hy was twee dae lank in aanhouding voordat hy op borgtog van R10 000 vrygelaat is.

In sy borgtogaansoek is sy hoë ouderdom – hy was toe 78 jaar oud – en sy swak gesondheid en die feit dat hy voorgeskrewe medikasie moet gebruik, as redes aangevoer waarom hy op borgtog vrygelaat moet word. Sy regsadviseur het ook aangevoer hy is nie ʼn vlugrisiko nie.

“Daar is twee patroondoppies gevind in die slaapkamer waar my ma geskiet is.

“Dieter het beweer dat hy buite by die swembad geskiet is, maar daar is geen patroondoppies daar gevind nie.”

Die klag teen Dieter is in 2015, hangende ’n formele geregtelike doodsondersoek, laat vaar nadat die landdroshof bevind het dat die polisie se ballistiese verslae foutief was. Vrae het ontstaan oor die betroubaarheid van die ballistiese toetse en die persoon wat dit gedoen het.

Die hof het wel aangedui dat hoewel die klag laat vaar is, die geregtelike doodsondersoek steeds sal voortgaan.

In 2016 het die dogter ’n saak van bedrog en die voorhou van vervalste dokumente teen Dieter by die Parkview-polisiekantoor geopen. Dit kon moontlik dui op die motief vir die moord met voorbedagte rade op Genée.

Die dogter het ook weer navraag gedoen oor vordering met die formele geregtelike doodsondersoek. Dit het daarna aan die lig gekom dat die dossiere soek is.

“Die doodsondersoek is einde 2017 voortgesit. As dit nie vir my volharding en veggees was nie, sou die dossier nog steeds opgesluit iewers gelê het en die saak sou stilstaan.”

Volgens die dogter het die doodsondersoek ook gesloer omdat Dieter heeltyd vir uitstel gevra het.

“Dieter moes glo in hierdie tyd ’n hartprosedure ondergaan.”

Die geregtelike doodsondersoek is eindelik in Augustus verlede jaar afgehandel.

Die hof het in Augustus verlede jaar, ná afloop van die geregtelike doodsondersoek, bevind daar is prima facie-getuienis dat Dieter verantwoordelik is vir Genée se dood.

AfriForum se private vervolgingseenheid het in April vanjaar aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) in hierdie verband geskryf nadat ’n aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nie aan die klaer kon bevestig of die bedrogklag – wat noodsaaklik is om ʼn ingeligte besluit te maak oor die vervolging van die beskuldigde – ook aan die DOV gestuur is nie.

Die DOV se kantoor moet die finale besluit neem oor die instelling van vervolging al dan nie.

Die DOV het na afloop van die private vervolgingseenheid se skrywe bevestig dat die dossier in die bedrogsaak nooit aan hom oorhandig is nie en het die nodige reëlings getref om die dossier van die aanklaer te bekom waarna vervolging uiteindelik ingestel is.

Dieter het Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn op vyf aanklagte, naamlik vir die moord op Bergs, vervalsing, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ammunisie en die voorhou van vervalste dokumente. Hy is weer op borgtog vrygelaat.

Die saak is Woensdag na die hooggeregshof oorgeplaas. Die NVG het ook aangedui dat hy daadwerklike stappe sal doen om te verseker dat die saak die nodige aandag geniet.

“AfriForum verwelkom die vervolging van Dieter. Ons sal voortgaan om Genée se dogter by te staan tot geregtigheid geskied,” sê Natasha Venter, AfriForum se adviseur vir private vervolging.

Dieter se verhoor sal na verwagting op 22 Januarie in die Johannesburgse hooggeregshof begin.

Die dogter sê dit sal ʼn groot verligting wees as geregtigheid eindelik geskied.

“Dit was ’n groot stryd vir ses jaar. Ek moes dit vrou-alleen baklei, maar ek het ook baie van myself geleer.”

Die dogter sê sy sal haar ma as ’n warm, goedhartige mens onthou.

“Sy het uit haar pad gegaan om ander mense te help. Sy was ’n voorbeeld van ’n werklik goeie mens.”

Genée het vir 32 jaar vir die skoonheidsmaatskappy Estée Lauder gewerk en was voor haar aftrede die bestuurder van openbare verhoudings.

Genée en Dieter is in 1999 getroud. Sy het kort daarna afgetree en ’n winkel in Dunkeld oopgemaak waar sy antieke ware verkoop het.

Volgens die dogter was Dieter ’n suksesvolle sakeman voordat hy haar ma ontmoet het.

“Nadat hy en my ma getroud is, het hy van een ondernemings na die volgende gespring. Hy het altyd groot sakeplanne gehad, maar dit het selde tot aksie oorgegaan. Ek glo vas hy het nie geld gehad toe hy met my ma getrou het nie en het finansieel baie op haar staatgemaak.

“Die laaste paar jaar is my ma finansieel verinneweer. Ek glo dit was oor hom.”

Die dogter sê ook sy en haar ma het in die jaar voor Genée se dood ʼn stram verhouding gehad. Haar skielike dood was verpletterend.

“Ek het vir haar gesê ek is bekommerd oor haar finansies en dit het op ʼn stryery uitgeloop. Ons het daarna nie weer gepraat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Die moord het in 2014 plaas gevind en al die bewyse is daar, hoekom is hierdie saak nog nie afgehandel nie, dit is ‘n mors van geld.

Agter die skerms ·

Soos H se kyk nader die antwoord le voor julle as julle net mooi kyk – vra vir iemand wat al iets so benader het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.