Steeds geen huurkontrakte vir boere

(Argieffoto: Maroela Media)

ʼn Groep boere in Mpumalanga wat vroeër met uitsetting gedreig is, het steeds nie hul huurkontrakte ontvang nie.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê die minister, Thoko Didiza, moet nou daad by die woord voeg en dadelik boere wat deur uitsetting in die gesig gestaar word, se huurkontrakte aan hulle voorsien.

Didiza het in April met die geraakte boere vergader en beloof dat uitsettings gestaak gaan word en dat haar departement diegene sal help wie se huurooreenkomste nog nie afgehandel is nie. Die minister het tydens die vergadering glo ook erken dat daar in die provinsiale departement duidelike tekens van korrupsie met betrekking tot beplande uitsettings was.

“Dit is nou reeds drie maande en die departement het steeds nie enige huurkontrakte aan dié suksesvolle, ontluikende boere gegee nie,” sê Steyn.

Sy sê die minister se besoek aan die boere het duidelik niks te doen gehad met die kommer en lot van boere nie, maar was eerder ʼn beeldpoetsgeleentheid vir die minister.

“Omdat hulle steeds nie bewyse van geldige huurooreenkomste het nie, loop baie van die boere die gevaar dat hulle hul finansiering en kontrakte kan verloor.”

Sommige van die geraakte landbouers boer al langer as ʼn dekade op staatsplase en het baie tyd en energie bestee om die plase op te knap en te ontwikkel.

Steyn sê landwyd word boere van hul plase afgesit of gedwing om na ander plase te trek omdat hulle steeds geen behoorlike ooreenkomste het nie en omdat die departement versuim om iets te doen aan die staat se beweerde gebrek aan voldoening aan kontrakte, korrupsie in die departement en inmenging deur derde partye.

“Dit wys dat die ANC nie wil hê ontluikende boere moet die ware eienaars van die grond wees nie, maar wil eerder hê hulle moet lewenslange huurders wees wat iets aan die regerende party verskuldig is.

“Die DA glo dat enigiemand wat wil boer en grond bewerk die steun moet kry wat hulle nodig het om te slaag. Hulle moet vaardighede en toegang tot die hulpbronne wat hulle benodig, hê.”

Die DA hou Woensdag ʼn aanlyn beraad oor grond waar kwessies soos dié verder bespreek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.