Steeds geen krag vir Jhb-middestad ná tonnelbrand

‘n Lugfoto van Johannesburg vanaf die 51ste verdieping van die Ponte-toring (Foto: LUCA SOLA/AFP)

City Power hanteer ʼn kragonderbreking by Fordsburg-substasie wat ʼn groot deel van die Johannesburgse middestad, Selby en Booysens raak.

“Die kragonderbreking het omstreeks 08:00 plaasgevind ná ʼn brand in ons ondergrondse tonnels by Ntemi Pilusastraat,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van die kragvoorsiener.

Die spanne is steeds op die toneel en rook borrel steeds in die ondergrondse tonnels. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

“Spanne van City Power kan ongelukkig nie toegang bekom tot die tonnels nie weens ʼn veiligheidsrisiko.”

Nooddiensspanne het vroegmiddag gepoog om die rook uit die tonnels te suig en probeer steeds bepaal waar die brand presies geleë is binne die 3 km-lengte van die tonnel.

“Die tegnici sal nie vandag in die tonnels kan inbeweeg nie. Ons verwag dat ons teen Dinsdagmiddag toegang sal kan bekom tot die tonnels – afhangende van goedkeuring van die nooddiensspanne en die munisipaliteit se omgewingsdienste. Die luggehalte en strukturele integriteit sal ook bevestig moet word voor die tegnici kan ondersoek instel,” het Mangena bygevoeg.

Michael Sun, LUR vir omgewingsinfrastruktuurdienste het die toneel saam met bestuur van City Power besoek om die situasie te monitor.

“Spanne poog intussen om gedeeltelik kragtoevoer na die betrokke gebiede te herstel deur die sentrale substasie, as alles vlot verloop. Ons vra groot om verskoning vir die ongerief.”

Meeste kliënte, spesifiek ondernemings, is in kennis gestel van die brand en sal deurlopend op hoogte gehou word.

“Ons verwag dat die spitsverkeer vanaand en môreoggend deur die kragonderbreking geraak gaan word omdat verkeersligte in die middestad nie werk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jr ·

Kommentaar lieweste op wat “WERK”, alles sal in een sin pas met die woord ” NIKS”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.