Steeds geen nuus ná SAL vlugte kanselleer

Argieffoto

Nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) Satermiddag aangekondig het dat alle vlugte tussen Suid-Afrika en Zimbabwe tydelik gekanselleer is, het dié redery nog geen verdere aankondiging gedoen nie.

Talle mense het hulle ná die aankondiging tot sosiale media gewend om hul misnoeë met die redery uit te spreek wat dié nuus op kort kennisgewing bekend gemaak het.

Mense het onder meer aangevoer dat hulle tussen Saterdag en Sondag veronderstel was om tussen die lande te reis, of dat sommige van hulle geliefdes nou gestrand sit op ʼn lughawe tot verdere aankondiging.

Talle het ook geëis dat alternatiewe akkommodasie gereël moet word aangesien hulle op die laaste minuut omtrent die vlugkansellasies in kennis gestel is.

Die lugredery het Saterdagaand in ʼn verklaring gesê hy sal so gou moontlik nuwe inligting bekend maak.

Die DA het in ʼn verklaring gesê dit is die verantwoordelikheid van Malusi Gigaba, minister van finansies, om te verseker dat alle vlugte hervat word omdat dié lugredery se werksverrigtinge onder sy portefeulje val.

Alf Lees, woordvoerder van die DA, sê dit blyk dat spanning tussen Suid-Afrika en Zimbabwe aan die toeneem is as gevolg van die bewerings van aanrandings teen die presidentsvrou, Grace Mugabe.

Hy het Gigaba gekritiseer omdat hy nié onmiddellik ná SAL se aankondiging die publiek oor die stand van sake, onder meer die veiligheid van die SAL-bemanning in Zimbabwe, ingelig het nie.

“Die stilte van ons regering oor die Grace Mugabe-saak is oorverdowend. Dié saak is nou die oorsaak dat die bedrywighede van die nasionale lugdiens onderbreek is. Minister Gigaba het ʼn plig om dringend te verseker dat die bedrywighede van SAL sonder hindernisse voortgaan,” het Lees gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Basjan ·

Fikile Mbalula, minister van polisie, het Vrydag gesê die Suid-Afrikaanse Polisiediens monitor Mugabe en is “op hoë gereedheidsgrondslag” om seker te maak dat sy nie die land verlaat nie. Hy het gesê daar is “geen manier” waarop Mugabe se vrou Suid-Afrika sal kan verlaat nie voordat die saak opgelos is.” Nou hoe nou mnr Mbalule???

Razzmatazz Fikile Mbalula sal hier ‘n goeie verduideliking uit die hoed uit moet pluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.