Steeds geen spoor van skubaduiker by Houtbaai

Die Houtbaai-NSRI se vaartuig Nadine Gordimer. (Foto: NSRI)

Daar is steeds geen teken van ʼn man wat Sondag in die omgewing van Duikereiland naby Houtbaai in die see vermis geraak het nie.

Geoff Stevens, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se basis by Houtbaai, het Sondag gesê ondanks ʼn uitgebreide soektog na die man, vermoedelik in sy 20’s, kon hy nie opgespoor word nie.

Die man het glo vroeër in die dag in die omgewing gaan skubaduik.

Stevens het gesê lede van die Houtbaai- en Kommetjiebasis, asook lede van die polisie se duikeenheid, is vroeg Sondagmiddag in die omgewing ontplooi om na die man te help soek. Die polisie ondersoek intussen die voorval.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het Maandagoggend gesê die soektog na die man duur steeds voort.

In ʼn afsonderlike voorval is ses roeiers Sondag na veiligheid in die Houtbaaihawe gebring nadat hulle teen ʼn sterk wind probeer roei het, maar geen vordering kon maak om terug in die hawe te kom nie. Die groep het van die hawe na die strand geroei en het op pad terug na die hawe in die moeilikheid beland.

Ses van die roeiers is aan boord van ʼn NSRI-boot geneem en na die hawe teruggebring. Vier ander roeiers kon self na die Houtbaaihawe terugkeer, het Stevens gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.