Steeds geen teken van Baaise ma

Silvia Wittal (45), ‘n ma van twee, word steeds vermis. (Foto: Verskaf)

Die ondersoek na die verdwyning van Silvia Wittal, ʼn Duitse burger van Richmond Hill in Gqeberha (Port Elizabeth), duur steeds voort.

Wittal (45), ʼn Duits-onderwyseres, se eksman, Kevin Crouse, het haar op 2 Januarie as vermis aangemeld.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die ondersoekbeamptes het verskeie leidrade opgevolg en daar word gehoop dat Wittal binnekort opgespoor sal word. Daar is in hierdie stadium egter nog geen deurbraak gemaak nie.

Op ʼn Facebook-groep wat begin is om met die soektog na die Wittal te help, lui ʼn inskrywing dat die polisie sekere ondersoekrigtings reeds afgehandel het. Dit het ingesluit ʼn ondersoek van byvoorbeeld elektroniese toestelle, kringtelevisiebeeldmateriaal en leidrade wat in Jeffreysbaai en St. Francis opgevolg is. Die polisie het reeds ʼn paar dae ná die verdwyning Wittal se motor, ʼn silwer Kia Piccanto, tydens ʼn uitgebreide soektog by Schoenmakerskop gevind.

“Ons wag nog vir die forensiese span wat steeds besig is met die ondersoek na die motor,” lui die inskrywing.

Wittal se broers in Duitsland is volgens die inskrywing in verbinding met die Duitse en Suid-Afrikaanse owerhede.

Mike Venter, bedryfshoof van SA Community Crime Watch wat ook met die soektog na Wittal help, sê daar was ná haar verdwyning nog geen spoor van beweging op enige van Wittal se bankrekeninge nie. Haar selfoon en skootrekenaar is tuis gelos.

Daar was ook ʼn hernude beroep op mense om in die soektog na Wittal te help.

ʼn Groep vrywilligers kom Saterdag weer byeen om die gebied by Schoenmakerskop vir Wittal te fynkam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

As my kind as “missing” ondersoek word sal ek kop verloor. ANGSWEKKEND !!

Swerwer ·

Ag liewe land, dit is vreeslik. die arme kinders. Ek sal totaal en al kop verloor as dit my dogter is
wat weg is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.