Steeds geen teken van Kaap Agri-bestuurder

Morne Olivier. Foto: Verskaf

Die soektog duur voort na Morne Olivier, ʼn 42-jarige inwoner van Ceres in die Wes-Kaap en junior bestuurder by Kaap Agri, wat Maandag spoorloos verdwyn het.

Sy naasbestaandes het Vrydag op Facebook geskryf: “Ons staan al op dag vyf. Ons kry leidrade en volg alles op. Baie dankie vir almal se ondersteuning. Dat niemand hom gesien het nie is onmoontlik. Fokus op die persoon [in die foto] asseblief. Morne is ʼn groot man. Hy is 1,93 m lank, het bruin hare en blou oë. Kyk bietjie na persone in voertuie vandag of iemand wat stap. Ons gaan nie ophou soek nie. Help ons asseblief.”

ʼn Bekommerde Annalize Olivier, Morne se vrou, het Woensdag aan Maroela Media gesê Morne is Maandag teen 11:38 vir die laaste keer by sy werkplek in De Doorns gesien.

“Hy het aan sy kollegas gesê hy voel nie lekker nie en gaan ry om iets by die apteek te kry. Hy het sy beursie saam met hom gevat, maar sy selfoon by die werk gelaat,” het Annalize gesê.

Volgens Annalize kom haar man gewoonlik saans teen 18:30 tuis. “Die mense by sy werk het my net voor dit gebel en gevra of ek weet waar hy is, want niemand het hom weer gesien vandat hy apteek toe sou gaan nie en sy selfoon het nog daar gelê. Hulle wou weet of hy dalk deurgery het huis toe aangesien hy nie goed gevoel het nie.”

Annalize het dadelik in haar motor geklim en na Morne se werkplek gery waar sy en Morne se kollegas deur kringtelevisiebeeldmateriaal gekyk het. Sy het Morne dieselfde aand by die De Doorns-polisiestasie as vermis aangemeld.

“Sedert hy weggeraak het, was daar nog geen beweging in sy bankrekening nie. Ons kon ook intussen vasstel dat sy motor, ʼn wit Volkswagen Citi Golf met die registrasienommer CT 21427, Maandag om 15:10 deur ʼn verkeerskamera buite Oudtshoorn in die rigting van George afgeneem is. Dit is beslis sy voertuig, maar ons kan nie met sekerheid sê of dit hy is wat die voertuig bestuur het nie,” het sy bygevoeg. Sy motor is ook nog nie opgespoor nie en het nie ʼn opsporingstoestel in nie.

Annalize en Morne is al agt jaar saam en drie jaar getroud. Hulle het geen kinders nie.

“Ek weet daar is nie ʼn klip wat nog nie omgedop is om Morne te kry nie. Ek kan egter nie beskryf hoe hierdie gevoel is nie. Elke sekonde wat verbygaan is ondraaglik seer. Kan ek asseblief net weet waar my man is. Asseblief, as ons net aanhou soek en bid. Baie dankie vir almal se omgee. Dit word regtig opreg waardeer,” het Annalize gesê.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om inligting oor Morne se verdwyning wyd op sosiale media te deel met die hoop dat hy vinnig opgespoor kan word. Enigiemand wat weet waar Morne hom mag bevind, word versoek om die polisie by 023 356 4020/1 of Pink Ladies by 072 214 7439 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anoniem ·

Baie, baie sterkte ! Mag Jesus by Jou wees Annalize ! Ons weet dit is baie sleg ???

belinda ·

ai baie hartseer hoop van harte dat hul hom sal opspoor, ;n mense kan nie net so verdwyn nie, hou net aan hoop en bid, sterkte

GM ·

Hoekom sal iemand hul selfoon doelbewus laat agterbly as hul weet hul voel nie lekker nie? Ek hoop hy word ongedeurd gevind.

Detectrace ·

Maak gebruik van ESI-SA. HULLE IS DIE BESTE.
Expert Surveillance and Investigations.

Penellope Jones ·

Hierdie is blykbaar nie die eerste keer wat hy so iets doen nie. Dus duidelik dat hy hulp nodig het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.