Steeds geen teken van man wat by Mosselbaai in see val

(Foto: NSRI Mosselbaai)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Sondagmiddag omstreeks 15:45 ontbied ná ʼn noodboodskap op ʼn WhatsApp-groep dat ʼn persoon by die St Blaize-staproete by die Mosselbaai-gholflandgoed van die krans in die see geval het.

Andre Fraser, stasiebevelvoerder van die NSRI in Mosselbaai, sê By Grace-ambulansdiens, Mosselbaai-brandweer, die SAPD, Mosselbaai-verkeersdienste en die Wes-Kaapse nooddienste het saam met NSRI reageer op die voorval.

“Die kusgebied en see is gefynkam vir enige spoor van die man. Twee helikopters het ook by die soektog aangesluit.” Een van die helikopters behoort aan ʼn lid van die publiek wat die helikopter beskikbaar gemaak het om aan die soektog deel te neem. Die tweede helikopter is vrywillig beskikbaar gemaak deur Mossel Bay Helicopters.

“Ondanks ʼn omvattende soektog was daar geen teken van die 23-jarige man nie. Die polisie stel ondersoek in.”

Die polisie se duikeenheid is steeds besig met die soektog en verskeie dienste sluit Maandag by hulle aan.

“Ons dink aan die familie van die man in dié moeilike tyd,” het Fraser bygevoeg.

In ʼn afsonderlike voorval is NSRI Mosselbaai Saterdag net voor 15:00 ontbied ná berigte van ʼn verdrinking by De Bakke-strand. Twee broers, onderskeidelik 17 en 13 jaar oud, het in die see gaan swem. “Volgens ooggetuies het die 13-jarige in die moeilikheid beland en sy ouer broer wou hom help. Die 17-jarige kon uit die see kom, maar sy boetie het onder die water verdwyn.”

Die NSRI het ʼn soektog van stapel gestuur en op die liggaam van die 13-jarige afgekom. Paramedici het alles in hul vermoë gedoen om hom by te bring, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

“Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie,” het Fraser gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.