Steeds geen teken van man wat in see verdwyn

Argieffoto: NSRI

Daar is steeds geen teken van ʼn visserman, vermoedelik in sy laat 30’s, wat Donderdag laatmiddag by Noetzie, oos van Knysna, van die rotse afgegly en in die see beland het nie.

Jerome Simonis, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Knysna, het gesê hul span is net ná 17:00 op die toneel ontplooi. Die man se vriend het glo gesien hoe die voorval plaasvind en het alarm gemaak.

Volgens Simonis het die NSRI hulle met twee bote, reddingswemmers en ʼn voertuig na die toneel gehaas. Die polisie, plaaslike en private nooddienste asook ʼn duikeenheid van die polisie het ook gereageer.

“Hoewel ʼn omvattende soektog onderneem is, is die man steeds nie opgespoor nie,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat die man nog nie opgespoor is nie hoewel die soektog Vrydag onverpoosd voortgegaan het.

“Die soektog word weer môre [Saterdag] voortgesit deur die polisie se duikers, die NSRI en die polisie in Knysna,” het Pojie laat Vrydagaand gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.