Steeds geen teken van Siam Lee

Siam Lee. Foto: Via Facebook

Daar is steeds geen teken van Siam Lee, die 20-jarige vrou van Durban-Noord wat ses dae gelede in verdagte omstandighede verdwyn het nie.

Die nooddiensnetwerk Mobi-Claw 911, wat toegewyd aan die soektog deelneem en Siam se naasbestaandes bystaan, het Woensdag in die vroeë oggendure gesê nóg ʼn dag lange ondersoek waarby die polisie, die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en Marshall Security betrokke was, is agter die rug.

“Dis ʼn groot spanpoging. Sommige leidrade is uitgeskakel en nuwe leidrade het te voorskyn getree. Hopelik kom ons binnekort nader aan ʼn antwoord,” het Mobi-Claw gesê.

Volgens Mobi-Claw wys die leidrade tot op hede in drie verskillende rigtings. “Sy is moontlik ontvoer deur iemand vir persoonlike bedoelings, sy word dalk teen haar wil êrens aangehou met die oog op mensehandel, of sy het dalk weggeloop en wil nie gevind word nie. Sy kan dalk alleen wees of saam met die persoon saam met wie sy laaste gesien is.”

Sue Foster, ʼn jare lange familievriend van Siam se ma, Carmen Lee, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle is rasend van bekommernis en vermoed Siam is ontvoer.

Siam is Donderdag omstreeks 15:00 die laaste keer gesien toe sy haar werkplek in Margaret Maytom-laan in Durban-Noord verlaat het. “Volgens kringtelevisiebeeldmateriaal wil dit voorkom of sy deur die bestuurder van ʼn swart Mercedes Vito met ʼn Gauteng-nommerplaat ontvoer is,” het Foster gesê.

Siam het ʼn roomkleurige moulose katoenrok aangehad toe sy die laaste keer gesien is. Sy het donkerbruin krulhare en groen oë. Sy is 1,71 m lank en weeg ongeveer 55 kg. Volgens Foster is Siam Carmen se enigste kind. Haar pa is oorlede.

“Sy het ʼn pragtige en opgewekte geaardheid. Ons hoop ons spoor haar vinnig en ongedeerd op.”

Foster en Carmen het met die hulp van Mobi-Claw ʼn roerende video gemaak waarin hulle ʼn beroep doen op enigiemand wat weet waar Siam is om na vore te kom.

“Bring asseblief my dogter huis toe. As sy om enige rede nie ontvoer is nie, weet ek sy sou tuis gewees het, so ek kan net die ergste verwag,” sê Carmen in die video.

Die Durban-Noord-polisie ondersoek ʼn saak van ʼn vermiste persoon. Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand wat weet waar Siam haar dalk bevind, om ao. Pillay by 073 789 9047 of 031 560 8004 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel. Of bel Mike Myers van Mobi-Claw by 082 929 8726 of Paul Stone by 082 931 0272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gesiggie ·

Mag Siam Lee veilig terug gebring word na haar Moeder… mag dinge nie erger wees as wat mense verwag of dink…. WE BELIEVE IN ANGELS….. hoop ons speodig n goeie berig te lees… Sterkte aan elkeen wat deur al die stress moet gaan….met die gewonder.. is sy Ok, is sy ontvoer, word sy mishandel…. Kom ons Bid en Glo vir n womderwerk…

RERIG ·

rerig ALIDA die meisie is weg. waarom kerm jy oor spelling??

Drieks ·

Het gister gehoor hoe man my huis dokter vertel van die erge mense handel in Boksburg. Kan daar nie meer met ons landsburgers gesels word oor dit nie.

Speedguard ·

Alida, Hulle soek Onnies , van waar is jy dan stuur ek vir jou aansoek forms!! Weet jy daar is disleksiese mense wat ook maar wil deel neem aan die gesprekke !! Rudolf ,nie op jou gemik nie maar is daar !!!

Jacobus ·

Op die foto lyk sy baie soos Christia Visser in die film Tess, geen bybedoelings, selfde dromige oë.

As dit mensehandel is, is sy al reeds landuit, hulle beweeg hulle ware vinnig om die bestelling te voltooi wat geplaas is en sodoende die polisie te vermy, onthou Durban se hawe is naby en sy kom maklik op ‘n skip geplaas word vir “uitvoer”.

As dit ‘n versteurde aanhanger is wat haar dalk geteister het, sal hulle vinnig moet beweeg want sy/haar doel sal wees om Siam te gebruik en te dood om so wraak te neem,

Hoop sy is nie ontvoer vir gebruik (verkragting, marteling en moord) in ‘n “snuff” film nie, dit sal een te erg wees.

Laat ons hoop sy is veilig en dat sy veilig gevind sal word, want enige van die bogenoemde is ‘n nagmerrie sinario vir enige ouer.

Drikus ·

Waarom word die kring TV nie geplaas vir uitkenning nie? Mag die dame gou ongeskonde gevind word.

PJC ·

Ek kan net dink hoe angstig haar familie moet wees en elke dag wat sy weg sal hulle angs net toeneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.