Steeds geen teken van vermiste stadsbeplanner

Jaco Prins (42). Foto: Verskaf

Die soektog duur voort na Jaco Prins (42), stadbeplanner en pa van ʼn dogtertjie, wat verlede Maandag spoorloos aan die Oos-Rand verdwyn het.

Oud-ao. Koos Gerber wat die ondersoek lei het Dinsdag aan Maroela Media gesê Prins is moontlik Woensdag in die Potchefstroom-omgewing in Noordwes opgemerk. “Ons werk nou saam met die polisie in verskeie provinsies en volg alle leidrade op,” het hy gesê.

Prins se geliefdes is rasend van bekommernis en het ʼn vermistepersoonsaak by die Brackendowns-polisiestasie in Alberton aanhangig gemaak. Hulle het ook die dienste van Mike Bolhuis Specialised Security Services ingeroep in ʼn poging om hom vinniger op te spoor.

Bolhuis het vroeër aan Maroela Media gesê Prins is die laaste keer by sy huis in Brackendowns gesien. “Hy werk vir Urban Dynamics as ʼn stadsbeplanner en het Maandag omstreeks 09:00 sy kantoor verlaat om huis toe te gaan om voertuie te ruil. Hy is daarna nog nie weer deur sy geliefdes gesien nie en sy selfoon is af,” het Bolhuis gesê.

Volgens Bolhuis bestuur Prins ʼn wit Citi Golf met die registrasienommer BM 76 SV GP. Die voertuig het ʼn opsporingstoestel, maar die toestel se sein kan nie opgespoor word nie.

Enigiemand wat weet waar Prins hom bevind of wat sy voertuig raaksien, kan Gerber by 082 952 6909 bel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Bolhuis het intussen almal bedank wat met die ondersoek help en inligting omtrent en foto’s van Prins versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.