Steeds geen teken van vermiste toeris

Nick Wiesmann. Foto: Facebook

Nick Wiesmann. Foto: Facebook

Die soektog na Nick Wiesmann (76), die Switserse toeris wat Saterdagaand in raaiselagtige omstandighede tydens ʼn troue in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin in Nelspruit vermis geraak het, sal vandag met ʼn groter soekspan voortgaan.

Albert Gryvenstein, woordvoerder van Bossies Community Justice, wat help met die soektog, het aan Maroela Media gesê die afgelope paar dae se soektog deur verskillende polisie-eenhede, beamptes van Working on Fire, privaat veiligheidsmaatskappye en lede van die gemeenskap het niks opgelewer nie. “Die soektog gaan vandag voort met nog ʼn groter soekspan. Hopelik sal dit iets oplewer,” het Gryvenstein gesê.

Maroela Media het vroeër berig Wiesmann en sy vrou, Bettina, het die aand ʼn troue by die Botaniese Tuin bygewoon, toe Wiesmann omstreeks 18:00 gesê het hy gaan gou ʼn baadjie in die motor haal. Hy het nie weer teruggekeer nie. Die egpaar se motor het steeds gestaan waar hulle dit vroeër parkeer het, steeds met Wiesmann se baadjie in. Volgens beeldmateriaal van veiligheidskameras op die perseel is Wiesmann nooit by die hek uit waar die gaste ingekom het nie.

Gryvenstein het gesê die soektog het aanvanklik net op die Botaniese Tuine gefokus, maar Woensdag uitgebrei na die omliggende gebiede. “Dit is ʼn moeilike soektog. Die polisie se duikeenheid soek ook in al die damme en ander watermassas in die omgewing. Daar is boonop krokodille in die water en seekoeimis oral. So, dit is net een van die vele uitdagings van hierdie soektog.”

Gryvenstein het vroeër gesê die Wiesmann-egpaar het ʼn vakansiehuis in Kaapstad, maar woon in Switserland. Gryvenstein is deurentyd telefonies in verbinding met die egpaar se kinders in Switserland, om hulle op die hoogte te hou van die soektog.

Wiesmann se dogter, Nicolette Wiesmann Astolfi, het Woensdag op sosiale media die soekgeselskap bedank dat hulle so onverpoos na haar pa soek. “Dankie, dankie, dankie … Julle is wonderlik! Mag julle hom vind, in die tuin of buite, miskien waar hy deur vriendelike mense onthaal word. Ons wil glo in ʼn gelukkige einde,” het sy geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.