Steeds geen teken van vermiste vrou ná drie jaar

Madelein Murray. Foto: Facebook

Francis Venter, die ma van Madelein Murray (40) wat glo in die Apiesrivier deur vloedwater meegesleur is, sê sy is raadop omdat daar steeds geen teken is van haar dogter nie.

Madelein was die eienaar van Scrap Zone Recyclers, ʼn skrootwerf in Pretoria se middestad. Sy is die ma van vier seuns en ʼn dogter, wat met haar verdwyning tussen ses en 20 jaar oud was.

Madelein was glo saam met haar oudste seun, Hanco (20), in sy wit Nissan Skyline toe vloedwater die motor op 11 November 2016 omstreeks 03:00 ná swaar reën op die laagwaterbrug in Flowerstraat, Capital Park, meegesleur het. Hanco het destyds gesê hy het bestuur toe ʼn fratsgolf die motor op die laagwaterbrug getref en in die rivier ingedruk het. Hy kon daarin slaag om sowat 1,5 km van die brug uit die vloedwater te kom en hulp by ʼn nabygeleë vulstasie te kry. Die motor se wrak is omstreeks 09:00 gevind, maar daar was geen teken van Madelein nie.

ʼn Volskaalse soektog deur die gemeenskap, Tshwane-nooddienste, die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingseenheid, van so ver as Benoni en Bronkhorstspruit, is van stapel gestuur. Die polisie se lugvleuel was ook by die soektog betrokke.

Francis Venter by die Bon Accorddam waar daar vir haar dogter gesoek is. Foto: Phillip Bruwer

Die soektog het in en langs die Apiesrivier plaasgevind oor ʼn gebied van sowat 13 km, van dié laagwater brug tot waar die rivier in die Bon Accorddam invloei en in die dam van 148 hektaar self. Die soektog is later afgelas nadat dit niks opgelewer het nie. Murray word steeds deur die polisie as vermis beskou.

Francis het, nadat die soektog afgelas is, vir dae lank langs die rivier geloop en soek na enige tekens van haar dogter. Sy het gehoop haar dogter het iewers uitgespoel en het geheueverlies en selfs dat sy dalk nooit daai noodlottige oggend in die voertuig geklim het nie.

Madelein se kinders het ook glad nie weer kontak gemaak met Francis nie.

“Daar is geen ondersoek nie. Niks nie. Die familie wil nie met my praat nie. Ná al die vloede in die omgewing moes daar tog al iets uitgespoel het. Selfs al het sy onder die rivier verdwyn moes daar ten minste iets soos ʼn skoen al uitgespoel het.”

Francis sê sy bly glo haar kind lewe nog. “Mens weet wanneer jou kind weg is.” Madelein se jonger sussie is in die ouderdom van 33 oorlede weens ʼn bloedklont op die brein. Sy het drie kinders agtergelaat. “Ten minste het ek berusting oor haar afsterwe. Ek kon my kind self begrawe. Maar met Madelein het ek niks nie. Nie eers ʼn tandeborsel wat ek vir die polisie kon gee vir DNS-toetse nie.

“Wanneer ek bid, vra ek die Here om haar te beskerm en haar veilig te hou as sy nog leef.”

Madelein Murray en haar seun, Hanco. Foto: Facebook

Madelein sê sy het alles verloor met Madelein se beweerde verdwyning. “Haar kinders is my kleinkinders, maar hulle wil nie met my praat nie. Dit maak my mal. Ek slaap nie. En as ek slaap, dan vlieg ek op en soek rond. Dan wonder ek wat my wakker gemaak het. Elke 10de van die maand dan dink ek, dit is nóg ʼn maand wat verby is.”

Madelein se gesin het ongeveer ʼn maand ná haar verdwyning glo ʼn roudiens gehou.

Francis het in 2017 agtergekom Madelein se nommer met haar foto is weer aktief op WhatsApp. Ek het dadelik ʼn boodskap gestuur en gesê ‘Hi hoe gaan dit?’ maar is toe dadelik geblok.”

As sy gebel het, het die selfoon dadelik na ʼn outomatiese stemboodskap gegaan. Venter het later die dienste van Leon Nel, ʼn forensiese tegnikus en private ondersoeker, ingewin met die hoop om antwoorde oor haar dogter se verdwyning te kry.

Iemand het in daardie stadium ook onder Madelein se naam ʼn vreemde boodskap in Zoeloe op haar Facebook-blad gemaak. “Baie van haar vriende het daarop kommentaar gelewer. Ek het nie haar Facebook laat afskakel nie want ek weier om haar dood te laat verklaar tensy ek konkrete DNS-bewyse het dat sy wel dood is,” het Francis bygevoeg.

Sy weet nie hoe dit werk dat ʼn selfoon “wat onder water was” weer kon werk nie en dit het weer tot die vrae gelei of haar dogter in die motor was daardie betrokke oggend en wat ook van haar liggaam of handsak kon geword het.

“Ek sit steeds sonder antwoorde en het al hoe meer vrae. Die onsekerheid is devastating vir my. Ek is ʼn wrak en ek hou nooit op bid vir my kind nie. Ek hou nooit op glo dat ek eendag in my kind gaan vasloop nie.”

Francis Venter (Foto: Facebook)

Sy het gesê sy het baie respek vir Nel en vandat hy in Januarie na Murray begin soek het, het hy glo meer uitgerig as wat die polisie haar mee kon help. “Elke keer as ek die polisie bel het hulle net gesê daar is geen nuwe verwikkelinge nie.” Nel kon ook daarin slaag om die selfoon in ʼn gebied naby Port Elizabeth in die Oos-Kaap op te spoor.

Blackie Swart, ʼn private ondersoeker van Icatch Investigative Consultants, het die volgende moontlike rede vir die plasing gehad. “Die selfoonnommer is heel waarskynlik heruitgereik. Die selfoonnetwerke doen dit nadat ʼn simkaart vir lank onaktief was. Die gebruiker het waarskynlik die nommer in Facebook getik en op haar profiel afgekom. Met die nommer kan die gebruiker haar [Murray] wagwoord kry deurdat Facebook net ʼn pinkode na die selnommer toe stuur om die wagwoord te verander,” het hy geskryf.

Lees alle vorige berigte oor Madelein Murray op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
My Mening

Hierdie is baie hartseer en ek kan dink dit moet baie moeilik wees vir haar Ma om te aanvaar, veral omdat dit vir my klink asof daar meer vrae as antwoorde is.

Ek kan net gaan op wat in die berig staan, maar dit maak glad nie vir my sin dat haar kkeinkinders niks met haar te doen wil hê nie. Hoekom? ‘n Mens sou dink dat juis in die tyd hul nader aan mekaar sou wees…..

Ek hoop haar Ma kry die nodige antwoorde sodat sy berusting kan ervaar.