Steeds geen uitsluitsel oor heropening van skole

(ArgieffFoto: Unsplash)

Nadat die departement van basiese onderwys aanvanklik gesê het minister Angie Motshekga gaan Maandag inligting bekend maak oor die heropening van skole, is dié mediakonferensie nou tot Dinsdag uitgestel.

Die konferensie sou al Donderdag plaasgevind het, maar is toe ook uitgestel. Motshekga vergader na verwagting vandag met die raad van opvoeders oor die vordering wat gemaak is met die voorbereiding vir die heropening van skole.

Hulle moet onder meer die vordering met die verskaffing van persoonlike beskermende toerusting (PPE) aan skole in die onderskeie provinsies bespreek. Verskeie skole het reeds aangedui dat hulle nuwe verskaffers nodig het om dié toerusting af te lewer, aangesien die groot vraag na PPE die verskaffing daarvan vertraag het.

Teen verlede week was daar ook nog geen aanduiding van wanneer kleuterskole gaan heropen nie. Kleuterskole en dagsorgsentrums is in Maart, kort voordat die landwye staat van afsondering in werking gestel is, gesluit.

Dié sentrums staan onder beheer van die departement van maatskaplike ontwikkeling.

Marnelda de Beer, hoof van die Afrikaanse Grondslagfasevereniging (AGV) van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het verlede week gesê daar is tot dusver betreklik min oor dié skole se heropening gesê behalwe dat die departement aangedui het hy sal nou saam met die departement van basiese onderwys werk om hieroor te besluit.

  • Die mediakonferensie sal nou Dinsdag om 16:00 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Francois ·

Dis pateties verby. Ek weet baie mense het bekommernis oor hulle kinders wat moet terug gaan skool toe maar hulle moet ook ophou selfsugtig wees. Ek kan nie teruggaan werk toe omdat ek n kind in kleuterskool het en een in graad 1. Hoe verduidelik jy vir so kind daar is nie kos want ek kan nie terug gaan werk toe oor die skole wat toe is.

Sarah ·

Dis baie moeilik :( Veral die kleuterskole kan ek verstaan hoekom hulle so sloer – kleintjies weet nie van “social distancing” nie. Maar om so aan te hou by die huis sit gaan maak dat die werkloosheid syfer op skiet en meer en meer mense doodgaan van die honger.

Kokerboom ·

Al die totale onbevoegdheid, rompslomp, voeteslepery en vertagingstegnieke(wel bekend) ten koste van kinders se opvoeding en toekoms! Die arrogansie om nie te erken “ons kan nie die werk doen”. Dis tragies verby!!!

Kremetart ·

Ek is ‘n onderwyser. Ek gee ‘online’ skool en my 3 kinders doen ‘online’ skool. Ons is 100% op datum met ons kwartaal 2 werk by ons 3 onderskeie skole. As ek teruggaan skool toe, sal my 3 kinders alleen moet tuisbly omdat hulle grade op ander tye sal oopmaak. Ek gaan met kinders werk wat uit risiko omgewings kom. Ek gaan met ander woorde die risiko loop om siek te word en die siekte na my huis te bring waar ek ‘n gesinslid het met ‘n lae immuniteit. Vir my is dit nie ‘n lekker gedagte nie.

Erik ·

Ek het begrip dat die oopmaak van skole nie so eenvoudig is nie, maar besluite moet geneem word en planne moet uitgevoer word.

Ek het 2 voorstelle:

1. Maak die skole slegs oop vir matrieks. Die ander grade kan vanaf volgende jaar (almal word deurgesit) opvang. Hulle het hul hele skoolloopbaan om in te haal.

2. Lig die inperking geheel en al en maak die skole heeltemal oop.

Maak nie saak wat Angie more gaan sê nie (indien sy wel praat), die kanse is goed dat dit weer gaan verander.

Agge nee ·

Sy sal g’n praar nie, sy is te bang vir die vakbonde. En AS sy praat sal sy niks sê nie.

Sharnelle ·

Sy is self so deurmekaar soos groentesop in n tuimeldroër, weet self nie watter kant toe meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.