Steeds g’n datum vir landwye Aarto-inwerkingstelling

Daar is steeds datum bekend gemaak vir wanneer die stelsel landwyd in werking gaan tree nie. (Argieffoto: Dept. van vervoer/Twitter)

Daar is steeds geen datum vir die landwye inwerkingstelling van die omstrede Wysigingswet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings, beter bekend as Aarto, nie.

Die tweede fase van die stelsel, om dit in 67 munisipaliteite landwyd (dit geld reeds in Tshwane en Johannesburg) aanlyn te bring, is volgens die padverkeersowerheid (RTIA) op dreef. Dié fase het op 1 Oktober in werking getree en duur tot die einde van Desember vanjaar.

Intussen word ʼn hofaansoek om dié omstrede wetgewing te betwis volgende week in die hof aangehoor.

Ingevolge die stelsel sal motoriste deur die Aarto-wet beboet word vir minder ernstige verkeersoortredings en ʼn strafpuntstelsel sal onder meer geld.

Monde Mkalipi, woordvoerder van RTIA, sê daar word in die tweede fase gewerk om die betrokke munisipaliteite aan die stelsel te koppel, opleiding van beamptes word gedoen en Aarto-dienssentrums word in alle provinsies opgerig. Daar is reeds sentrums in Gauteng en Mpumalanga.

ʼn Proses om die publiek te onderrig oor die stelsel se belangrikste elemente – en die voordele wat dit volgens RTIA gaan inhou – is ook onderweg.

Mkalipi sê daar word ook gewerk om die appèltribunaal aan te stel, voorbereidings vir die 2022-inwerkingstelling van die strafpuntstelsel word getref en ʼn rehabilitasieprogram, wat ook volgende jaar in werking moet tree, word op dreef gekry.

“Die doel van die Aarto-proses is om ʼn gesindheid van vrywillige voldoening aan wetgewing by mense te kweek,” sê Mkalipi.

Hy sê ingevolge die Aarto-proses het motoriste verskeie opsies wanneer hulle ʼn oortreding begaan. Dit sluit in ʼn 50%-afslag as jy binne 32 dae betaal, die verklaring van ʼn dispuut as jy die boete wil betwis, en die afwenteling van spesifieke oortredings na die spesifieke motoris wat ʼn voertuig bestuur het – soos in die geval waar ʼn groot maatskappy talle voertuie en bestuurders het.

“Aarto is daarop gemik om die gedrag van motoriste ten goede te verander, veral wat vrywillige voldoening betref,” sê Mkalipi.

Die drukgroep Outa is steeds nie oortuig nie en sy aansoek om die wetgewing te betwis word volgende week in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.

ʼn Resep vir mislukking

Adv. Stefanie Fick, ʼn woordvoerder van die organisasie, sê benewens bedenkinge oor die grondwetlikheid daarvan, het Outa ook ʼn ernstige probleem met die praktiese inwerkingstelling van die stelsel.

“Aarto was onsuksesvol in Gauteng en nou wil hulle dit landwyd uitrol.”

Fick sê die stelsel werk dalk in sommige ontwikkelde lande, maar Suid-Afrika sukkel reeds om net bestaande stelsels te reguleer.

“Een van die redes hoekom die stelsel hier misluk het, is omdat hulle geld opgeraak het. Hulle het nie geld gehad om vir mense die kennisgewing van ʼn oortreding met geregistreerde pos [soos voorgeskryf ingevolge wetgewing] te stuur nie.”

Fick sê ingevolge die wysigingswet kan ʼn kennisgewing voortaan elektronies gestuur word, dus per SMS, WhatsApp of e-pos. Outa meen egter dit is ongrondwetlik, omdat die gevolge vir ʼn oortreding – byvoorbeeld ʼn strafpunt – ʼn té swaar straf is net omdat ʼn motoris moontlik ʼn SMS misgelees of ʼn e-pos tussen gemorspos beland het.

Die wetgewing bepaal nie dat die owerheid moet seker maak die kennisgewing het ʼn motoris wel bereik nie.

Fick sê ook dit is onduidelik of ʼn motoris steeds die opsie het om ʼn verkeersoortreding in die hof te gaan betwis. Outa meen ten spyte van beloftes dat Aarto tot groter padveiligheid gaan lei, dit na alle waarskynlikheid nie gaan gebeur nie. Ernstige oortredings, soos bestuur onder die invloed of roekelose en nalatige bestuur, val nie onder Aarto nie.

Fick sê alle aanduidings is daar dat die owerhede moontlik nie die administrasieproses sal kan hanteer nie. Die aanwys van die appèltribunaal, ʼn kardinale deel van die wet, is steeds nie gedoen nie en Outa sê die wetgewing kan daarsonder bloot nie in werking gestel word nie.

RTIA hou egter vol dat die inwerkingstellingsproses op dreef is en mense moet die voordele daaraan verbonde in gedagte hou.

Mkalapi sê daar word hard gewerk om alle uitstaande dokumente en prosesse af te handel sodat pres. Cyril Ramaphosa so gou doenlik ʼn datum vir die inwerkingstelling van die proses kan aankondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Suzette ·

Nog ‘n doodgebore instelling deur die kader regering – maar die belastingbetaler sal gemelk word…..

Andries ·

In hierdie land waar hulle hulle afvee aan wet en orde – ek twyfel . . .

Marius ·

Hou op om die land en sy mense met ander lande te vergelyk . Die taxi bedryf is maar net nog n bewys dat padverbruikers nie by die pad reels hou nie.

koos10 ·

Ek het dit gesê en sal daar by bly.
Ons huidige regering is meesters met nuwe wette uitvaardig maar papbroeke om wette af te dwing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.