Steeds gʼn video; terugbetaling ‘beter as niks’

Hulle het dalk nie ‘n video van hul sprokiestroue nie, maar mintens het Jaco en Cindy-Lee Grobbelaar ‘n terugbetaling ontvang. (Foto: Mighty Fine Weddings)

Dit is nie wat hulle wou gehad het nie, maar dit is beter as niks.

Só het Cindy-Lee Grobbelaar vandeesweek gesê nadat die videograaf wat haar en haar man, Jaco, se troue in Oktober verlede jaar moes verfilm, die geld daarvoor terugbetaal het nadat hy nie die video kon lewer nie.

Maroela Media het vroeër berig die Grobbelaars was platgeslaan nadat hulle DuPlooyMedia ten duurste vir ʼn trouvideo betaal het, maar maande later steeds niks ontvang het nie. Die Grobbelaars is Suid-Afrikaners wat in Kanada woon, maar hul groot dag hier saam met hul geliefdes wou vier.

Die egpaar het van die maatskappy gebruik gemaak vir ʼn regstreekse uitsending van die bruilof vir geliefdes wat dit nie kon bywoon nie, en het ook betaal vir ʼn bykomende videopakket van hul troudag. Nadat hulle herhaaldelik navraag gedoen het oor wanneer dié pakket eindelik gelewer gaan word, het Pierre du Plooy, eienaar van die onderneming, steeds nie daarmee vorendag gekom nie.

Cindy-Lee sê nadat die berig hieroor verskyn het, het Pierre du Plooy, eienaar van DuPlooyMedia, hulle op WhatsApp gekontak en gevra vir bankbesonderhede sodat ʼn terugbetaling vir die videopakket gedoen kan word.

“Ons het ingestem dat hy ons terugbetaal vir alles behalwe die live stream, want dit het hy tog gelewer,” sê Cindy-Lee.

Cindy-Lee en Jaco Grobbelaar op hul troue in Oktober verlede jaar. (Foto: Mighty Fine Weddings)

Die terugbetaling was reeds enkele ure later in hul rekening.

“Ons het natuurlik gevra vir net die rou [beeld-] materiaal sodat ons self iemand kan kry om dit te verwerk.”

Dit het egter geblyk dat dié materiaal ongelukkig nie beskikbaar is nie.

Cindy-Lee sê hulle is nietemin dankbaar dat Du Plooy die situasie wél probeer regstel het.

“Die geld terug in ons sakke was nie die eerste of tweede prys nie, maar ons is dankbaar die situasie is opgelos. Dit is vir ons belangrik dat  troupaartjies doodseker maak voordat hulle iemand betaal vir ʼn diens by ʼn troue.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Sy besigheid ly groot skade, hopelik sien ander dit ook en gebruik nie sy dienste nie

Jane-Serie ·

Dis sooooo hartseer. Ons het presies dieselfde oorgekom met ‘n videograaf wat ons gebruik het Life of Morne (Morne van Tonder) hy was tenvolle betaal vir sy dienste maar na vele lee beloftes en 30 ondernemings om ons trou video aan ons te stuur het ons steeds niks ontvang nie. Na vele pogings en prokureurs briewe het alles steeds op dowe ore geval. Mag die wiel draai en hy sy dag kry, Mens se trou dag is iets wat jy nooit weer oor gaan he nie, soveel herinneringe daarmee heen. As ons net fotos wou gehad het het ons slegs n fotograaf gekry, daarom juis videograaf wat die oomblikke vasvang. Ek wens ek het geweet watse genot sulke mense uit dit put om soveel trauma en seer te veroorsaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.