Steeds net hartseer, frustrasie vir vermoorde man se gesin

Richard Wood (Foto: Verskaf)

“ʼn Mens voel gefrustreerd, want jy wil klaarheid kry. Jy kry nie afsluiting nie, want dit hou net aan.”

Só het ʼn bedroefde ma van Pretoria-Noord Donderdag haar en haar gesin se frustrasie verwoord nadat die saak waarin twee van hul seun se vriende teregstaan op sy moord vir die soveelste keer uitgestel is.

Maroela Media het vroeër berig Richard Wood is op 5 November verlede jaar, ʼn maand voor sy 28ste verjaardag, buite ʼn kompleks in Theresapark vir dood agtergelaat. Hy is so erg aangerand dat hy ʼn week later, op Maandag 13 November, in die hospitaal beswyk het.

Die twee beskuldigdes, Marchand Bredell (32) en Christopher van der Westhuizen (23), se verhoor is op 25 September in die streekhof in Pretoria-Noord tot 18 Oktober uitgestel nadat Van der Westhuizen se regsverteenwoordiger hom aan die saak onttrek het, glo weens botsende belange en omdat sy kliënt hom nie kan bekostig nie.

Nadat die saak weer uitgestel is, het Wood se ma, Maryna, gehoop die verhoor sou eindelik Woensdag kon begin het. “Maar Chris het weer nie sy prokureur betaal nie en het toe sonder hom verskyn,” vertel sy.

Hy het die hof “belowe” hy sou “sy dinge agtermekaar kry” en sy nuwe prokureur betyds betaal sodat die verhoor op 22 Januarie kan begin, vertel Maryna.

ʼn Mens moet net geduldig bly en vertrou dat die reg sy loop sal neem.

Gevra hoe sy voel oor die gedurige uitstel, het Maryna deur haar trane gesê: “ʼn Mens moet net geduldig bly en vertrou dat die reg sy loop sal neem, maar dis frustrerend dat dinge nie na ʼn kant toe kom nie.

“Vir ons as ʼn gesin voel dit soos ʼn seer waarvan die rowe elke keer weer afgetrek word. Jy moet maar net wag. Jou hande is afgekap.”

Ook Bredell raak glo ongeduldig met die saak wat nou reeds ʼn jaar lank aankom. Maryna vertel sy prokureur het gesê Bredell word daardeur benadeel dat die saak gedurig uitgestel word.

Sy sê sy wil nie eens daaraan dink hoe dit sal wees as Van der Westhuizen op 22 Januarie weer eens nie regsverteenwoordiging het nie. Die regter het hom al by ʼn vorige geleentheid gevra waarom hy nie regshulp kry as hy nie sy prokureur kan bekostig nie, maar hy het volgehou hy sal wel die geld bymekaar kan kry, sê Maryna.

“Op 13 November was Richard al ʼn jaar dood,” het Maryna hartseer vertel. “Ons vier oor ʼn maand die tweede keer Kersfees sonder hom, maar ons het nou nog nie duidelikheid oor hoe hy dood is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lientjie ·

Dwing hom om ‘n staatsprokureur te kry. Dis waarvoor hulle daar is…………. gratis.

Nettie ·

Dis vertragingstaktiek deur Van de Westhuizen. Volgende keer moet die regter net eenvoudig ‘n regshulpprokureur aanwys en basta!

Marlie ·

‘n Staatsprokureur tree namens die Staat op, dus tree hy/sy altyd vir die “prosecution” op. ‘

Abe ·

Marlie,
‘n Regshulpprokureer is een wat deur die staat aangestel word om ‘n aangeklaagde persoon te verdedig.(m.a.w. nie die “prosecution” nie maar die”defense”)

christa ·

hoekom moet skuldiges gelek word om ‘n prokureur te kry? verhoor hulle sonder prokureur. Hulle het uit gevind dis n manier om onskuldig beskou te word.

Abe ·

Christa, Johan en Domvraag,
Ons regstelsel werk nie so nie (juis omdat dit ‘n baie goeie stelsel is). As iemand sonder regsverteenwoordiging (‘n prokureer of advokaat) verhoor word, het die reg nie sy behoorlike gang gegaan nie en geregtigheid het nie geskied nie. Dit is behalwe as die aangeklaagde behoorlik aansoek gedoen het om homself te verdedig en die versoek is toegestaan.

Johan ·

Absolute belaglike verskoning en nog meer belaglik dat die hof dit aanvaar. Wees verseker die dag dat SANRAL my hof toe sleep, gaan ek net die heeltyd nie my prokureur betaal nie en dit so aan die hof stel. Hulle sal my saak vir die res van my lewe net moet uistel, uitstel, uitstel.

Domvraag ·

Patetiese regstelsel. Ons het vryheid van spraak maar nie vryheid van regsverteenwoordiging nie. As iemand nie n prokureur het nie moet die saak voortgaan. Die magistraat of regter is mos groot genoeg om n saak aan te hoor sonder liegstories en verdraaings van die waarheid.

Stan ·

Sterkte aan die Wood familie, hoop geregtigheid sal spoedig seevier.

Moedeloos ·

Saak teen my stiefkind is nou al vir die 16de keer uitgestel, die laaste 4 keer agv die staatsaanklaer wat “te besig” is om by die hof op te daag.

jakes ·

Die saak is n skedule 5 misdaad en die saak moet prioriteit geniet. Die beskuldiges se kans op tronkstraf is baie groot afgesien van wie hul regsverteenwoordigers is. Die feit dat die saak so sloer is weereens n bewys dat die regstelsel nie behoorlik fungeer nie. As daar prima faki bewyse is moes daar al n uitspraak gewees het.

Abe ·

Jakes,
Prima facie = volgens eerste indruk (letterlik Latyn “eerste oogopslag”)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.