‘Steeds net matriek nodig vir provinsiale hoof van misdaadintelligensie’

polisieDie vakbond Solidariteit het die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Riah Piyega, versoek om te verklaar waarom die minimum akademiese vereiste vir die pos van provinsiale hoof van die polisie se misdaadintelligensie-afdeling net ’n matrieksertifikaat is.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê in teenstelling hiermee is die minimum akademiese kwalifikasie vir ’n seksiehoofpos, wat op die vlak van brigadier is en ’n laer rang as generaal-majoor in die polisie is, ’n tersiêre kwalifikasie.

Hy sê die polisie adverteer tans weer verskeie vakante poste by sy misdaadintelligensie-afdeling en ’n matrieksertifikaat is die minimum akademiese vereiste vir sommige van die poste.

Volgens Groenewald is die minimum vereistes vir die genoemde poste inkonsekwent en boonop teenstrydig met Nasionale Instruksie 4/2010, ’n amptelike polisiedokument wat die aanstellings van brigadiers tot luitenant-generaals reguleer.

“Die dokument stel dit duidelik dat persone wat vir aanstelling op dié vlakke oorweeg word, minstens ’n kwalifikasie op NKR-vlak 6 moet hê. Daarby is die vergoedingspakket vir die pos van generaal-majoor R1 005 945,00 per jaar, terwyl die pakket van die brigadierspos R833 874,00 per jaar is. Dit is ongehoord dat die vergoedingspakket van ’n pos waarvan die minimum akademiese vereiste ’n matrieksertifikaat is, meer is as die vergoeding van ’n pos waarvan die minimum akademiese vereiste ’n tersiêre kwalifikasie is,” sê Groenewald.

Groenewald sê Solidariteit het ook in Maart vanjaar die vereistes vir dieselfde poste in die genoemde afdeling van die polisie bevraagteken. “Die pos van provinsiale hoof is vroeër vanjaar ook geadverteer en in daardie stadium was die minimum akademiese kwalifikasie vergeleke met die vorige jaar se vereistes reeds vanaf ’n kwalifikasie op NKR-vlak 6, naamlik ’n nasionale diploma, of NKR-vlak 7, naamlik ’n graad, na een op NKR-vlak 4, naamlik ’n matrieksertifikaat, verlaag,” sê Groenewald.

Volgens Groenewald is dit duidelik dat misdaadintelligensie tans, te midde van bewerings van korrupsie en weens ’n gebrek aan bevoegde leierskap, nie optimaal funksioneer nie.

“Dit is van die uiterste belang dat gekwalifiseerde en bevoegde persone aangestel word. Die inkonsekwente minimum akademiese kwalifikasies help nie om die tendens van korrupsie en swak prestasie reg te stel nie. Dit is verder ongehoord dat ondergeskikte offisiere hoër kwalifikasies as hul seniors moet hê.”

Groenewald sê Solidariteit het die nasionale polisiekommissaris versoek om die advertensies terug te trek en die poste ooreenkomstig Nasionale Instruksie 4/2010 te adverteer.

“Ons het verder versoek dat die SAPD moet verduidelik waarom daar van die nasionale instruksie afgewyk is en aan watter instruksie of beleid die advertensies nou voldoen wat hierdie afwyking regverdig en dit wettig maak. Die minister van polisie het in 2011 in antwoord op ’n parlementêre vraag bevestig dat senior aanstellings deur Nasionale Instruksie 4/2010 gereguleer word. Daar moet dus verduidelik word waarom die nasionale instruksie nie in hierdie geval geld nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sollie ·

Ja… en dan is matriek ook nou nie meer matriek soos party van ons geskryf het nie ne… skrikwekkend!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.