Steeds ‘te veel’ dronkbestuurders

Argieffoto

Stad Kaapstad het sy kommer uitgespreek oor dronkbestuur op paaie in die omgewing van die stad wat geleidelik begin toeneem, veral met die feesseisoen wat om die draai is.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die Stad Kaapstad het sy metropolisie, verkeersdienste en wetstoepassers die afgelope paar dae altesaam 253 mense in hegtenis geneem, waarvan 20 vir dronkbestuur en 23 vir die besit of verkoop van dwelms was. Daarbenewens het hulle ook meer as 57 000 boetes uitgereik.

Een van die voorvalle waarop die metropolisie dié naweek gereageer het, was ’n tref-en-trap waarin ’n voertuig Vrydag op die N2 in Kaapstad in ’n vragmotor vasgery en weggery het.

“Die beamptes kon daarin slaag om die 54-jarige bestuurder wat nog agter die stuurwiel gesit het, vas te trek, en dit was duidelik dat hy onder die invloed van alkohol was. Dit sou verklaar waarom hy gedink het dat hy in ʼn vragmotor kan vasry en net wegry.”

Die bestuurder is in hegtenis geneem vir dronkbestuur en by die Nyanga-polisiekantoor aangehou.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sê ten spyte van waarskuwings waag motorbestuurders dit steeds om dronk op die paaie te bestuur en hul eie lewe en ander s’n in gevaar te stel.

“Beamptes het geen verdraagsaamheid teenoor dronkbestuurders nie, want die verwoesting wat hulle veroorsaak, het ʼn lewenslange uitwerking,” sê Smith.

Verder het die metropolisie verlede Donderdag op beeldmateriaal van kringtelevisie wat Hans Strijdomlaan en Laer Langstraat in die stad monitor gesien hoe ’n man met ’n nagemaakte vuurwapen rondloop.

“In die beeldmateriaal is dit duidelik hoe die man in die middel van die pad ʼn ‘vuurwapen’ in Langstraat rig. Die polisie is daarvan in kennis gestel. Intussen het die operateurs die man op kamera gevolg en toe hy by ʼn hotel ingaan, het die polisie hom aangekeer. Die 23-jarige man is in hegtenis geneem.”

Tydens misdaadvoorkomingspatrollies in Petunialaan in die Strand is twee persone in hegtenis geneem vir die besit van dwelms en ʼn gevaarlike wapen. Hulle is na die Strand-polisiekantoor geneem.

Verkeersdiensbeamptes het altesaam 64 verdagtes in hegtenis geneem, 53 121 boetes uitgereik en op 117 voertuie en 137 selfone beslag gelê.

Verskeie onwettige straatwedrenne is in die Bellville-, Athlone-, Ottery-, Kampsbaai- en Seepunt-omgewing gehou, waar beamptes toe 12 bestuurders in hegtenis geneem het en 186 boetes vir verskillende oortredings uitgereik het.

“Namate die weer warmer word, sal die strande en ons ontspanningsgeriewe honderde, indien nie duisende besoekers nie, trek. Alle besoekers word gevra om die wet te gehoorsaam en na wetstoepassers te luister. Alkohol word by geen van hierdie geriewe toegelaat nie en onwettige alkohol sal gekonfiskeer word. Moenie toelaat dat ʼn prettige dag uitloop op ʼn oortreding van dronkbestuur of erger nie,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Nog steeds te veel? Maar hulle sê nie wat die toegelate perk is.

Flip ·

Wat maak dit saak wat die toegelate perk is? Hoekom wil almal altyd probeer om nét onder die perk te wees? As jy weet jy gaan bestuur, hoekom wil jy ENIGE alkohol drink? Ek sê sluit ALMAL toe wat drink en bestuur…..

Cherokee ·

Tussen die lyne lees, is nie vir almal beskore, toegegee. My kommentaar het nie betrekking op die alkohol perk, maar tong in die kies op die woorde ‘te veel dronkbestuurders’.

Nico ·

Nou gaan die punte stelsel in gebring word, ek wonder net hoe gaan dit werk, is dit net van toepassing op ‘n sekere groep bestuurders, aan taxi’s en swaarvoertuig bestuurders uit gesluit word. Lê swaarder boetes op en verwyder die bestuurs lisensies van sulke mense, die regering is mos bang vir taxi vakbonde.

Michael ·

Maklike teikens. Sit buite ‘n Spur en wag vir die pa van 4 wat ‘n glas wyn saam met ‘n tweegang maaltyd saam met sy gesin gedrink het. Welgedaan. Stad Kaapstad sal gelukkig wees as daar geen motors op die pad is nie. Maar o wee, vanwaar dan al daardie lekker maklike inkomste van boetes?

JohanR ·

Michael – en jy en jou gesin twee dogtertjies, ‘n seuntjie en vroulief, het ‘n lekker aand uit geniet by die Spur. Almal lekker ge eet en die kinders het in die kinder area gespeel. Daar teen is daar ‘n ou wat seker al sedert 16h00 in ‘n kroeg in Gardens sit en suip, en suip en suip. Nou klim julle in die SUV om nou huis toe te ry met elkeen miskien net ‘n glassie wyn saam met die ete soe julle is defnitief nie dronk nie of oor die limit nie. Meanwhile het Meneer Suip ook besluit is tyd om huis toe te gaan en klim in sy Ford Raptor. Lekker gesuip trap hy daai lepel, en skielik soos julle nou huis toe ry kom hy met een hengse spoed oor ‘n rooi lig. Hy tref jou SUV soe hard dat hy hom lig en omgooi. Sal nie verder gaan nie want dit is ‘n tragiese storie by daai krusing. Meneer Suip lewe natuurlik en het net ‘n paar skrape. As daai aand die polisie se hulpbronne nie soe dun was nie kon Meneer Suip miskien in ‘n pad blockade opgetel gewees het voordat hy in jou SUV in geploeg het!

Gert Johannes ·

Daar is net EEN oplossing, die wet moet vernader word, maar ek weet ook met so veel korubsie mag dit dalk net gedeeltelik werk. Waarom moet ons sober bestuurders vir dronkaards se skade betaal, deur die versekering? As jy onder die invloed bestuur en jy maak ‘n ongluk, maak jy jou voertuig op jou koste reg en jy betaal die verkeerslig ens wat jy om gery het. Verder, as jy iemand beseer betaal jy sy medies en laastens, as iemand dood is, word jy van strafbare manslag aan gekla en sommer ter dood veroordeel. Indie die wet so verander, waarborg ek die min dronk bestuurders, maar onglukkig is die top daarbo in die ANC ‘n groot deel van die wat aan die pen gaan ry en sal dit net nooit gebeur nie.
JY WAS ABSOLUUT BEWUS VAN JOU TOESTAND VOORDAT JY DIE SLUETEL GEDRAAI HET.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.