‘Steek Hlaudi in die pad of ons gaan hof toe’

Foto: DA/Twitter

Foto: DA/Twitter

Lede van die DA en Cope het Maandag by die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park teen Hlaudi Motsoeneng betoog.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het tydens die betoging gesê Motsoeneng, wat verlede week as groepbestuurder van korporatiewe sake aangestel is, moet onmiddellik en permanent afgedank word.

Volgens Maimane is Motsoeneng vir ʼn rede deur pres. Jacob Zuma aangestel. “Motsoeneng het opdrag van Zuma gekry om die openbare uitsaaier in die staat se propogandamasjien te omskep. Ons sal nie toelaat dat die ANC apartheidstyltegniek implementeer nie.”

Maimane het gesê die regering wil die media kaap om die waarheid en ware stand van sake te probeer wegsteek. “Wat ons hier sien, is die werk van ʼn diktator. Pres. Zuma weet dat indien jy die klankgolwe kan beheer, kan jy die land beheer. En om dit te doen, het Zuma ʼn onbeheerde diktator nodig. Hy het dit gevind in die vorm van Hlaudi Motsoeneng.”

Volgens Maimane het die DA het ʼn memorandum aan prof. Mbulaheni Maghuve, voorsitter van die SAUK-raad, oorhandig, waarin hulle eis dat Motsoeneng onmiddellik afgedank word en dat die SAUK-raad ontbind word. “Indien prof. Maguvhe nie binne 48 uur optree nie, sal ons met regsaksie begin. Ons het Hlaudi al in die hof gewen en ons sal weer.”

Foto: DA/Twitter

Foto: DA/Twitter

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het intussen ook vandag geëis dat Motsoeneng onmiddellik die trekpas kry. Volgens Buys gebruik Motsoeneng die nasionale uitsaaier al hoe meer as ʼn persoonlike spreekbuis om sy eie politieke agenda te bevorder.

Buys het gesê die SAUK is onder die hand van Motsoeneng en die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, gereduseer tot ʼn ANC-beheerde staatsuitsaaier en Motsoeneng se afdanking sal die eerste stap wees om sy oorspronklike doel van openbare uitsaaier te verwesenlik.

“Dit is duidelik die ANC en die minister van kommunikasie, Faith Muthambi, beskou die SAUK as staatseiendom en is lankal besig om ʼn vyandige oorname van die openbare uitsaaier te bewerkstellig. Dit kan gesien word in die Wysigingswetsontwerp op die Uitsaaiwese, waardeur die openbare uitsaaier volledig onder die beheer van die president en die minister geplaas word,” het Buys verduidelik.

Volgens Buys vier wanbestuur en korrupsie onder die leiding van Muthambi en Motsoeneng hoogty. “Benewens die bevinding dat Hlaudi Motsoeneng se aanstelling onreëlmatig was en dat hy gelieg het oor sy kwalifikasies, is bevind miljoene rande word jaarliks wanbestee en die SAUK is al langer as ʼn dekade lank tegnies bankrot,” het Buys gesê.

Die situasie by die SAUK het onlangs heeltemal versleg met die storms wat om die kop van Motsoeneng, met sy outokratiese styl en sensuurbeleid, woed. Maar dit is duidelik die krisis strek verder as net die aktivistiese hoof van die SAUK.

“Die gebeure is bloot ʼn weerspieëling van ʼn grondliggende siening van die regerende party, dat beheer oor die openbare media ʼn onlosmaaklike deel uitmaak van die party se beheer oor die land. Hierdie siening is stewig vasgelê in wetgewing, beleid en sleutelaanstellings by die uitsaaier,” het Buys verduidelik.

Hy het bygevoeg dat die verstaatliking van die openbare media al hoe meer daartoe bydra dat onafhanklike gemeenskapsmedia steeds ʼn onlosmaaklike deel van die medialandskap uitmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

humor ·

Deursigtelik is die hele sauk – raad bewus van hierdie reeds deurlopende agenda en behoort daar geheel en al n proses van vernuwing in aanvang geneem te word.

Piet Piper ·

“Hl-audi” Motsoneng is soos ‘n “Audi- motor” met ‘n besope en bedwelde bestuurder agter die stuurwiel. Hy is ‘n ongeluk, en ‘n ernstige een, wat binnekort gaan gebeur. Wrakstukke sal SA se mense moet optel as hy verder so aangaan…………wonder wat sal sy IQ uitslag wees.

Hasie ·

SA kan nie eers van Hlaudi ontslae raak nie, dan dink hulle hulle gaan van Zuma ontslae raak.

snoefie ·

“julle” het hom indiehof green en wat het dit julle in die sak gebring? hy is nog presies waar hy wil wees.

Piet ·

Ek kan nie sien hoe mens Hlaudi kan wegjaag sonder om Zuma ook te laat gaan nie. Die een is mos ‘n siamese tweeling van die ander. Die president is ‘n groter probleem as Hlaude, want laasgenoemde het maar net gelieg oor sy kwalifikasies en homself 2 keer in een jaar ‘n helse verhoging gegee. Zuma het in die parlement gelieg oor waar sy geld vandaan kom en vir homself ‘n dorp gebou. Sterkte aan die DA – Ek sal maar sit en kyk of julle iets gaan regkry.

Hasie ·

Shannon Abrahams is ook ‘n puppet van Zuma, net soos hierdie ou by die SAUK.

Anoniem ·

Is die woorde op die plakkaat (“Hlaudi = Zuma’s puppet”) nie net die een helfte van die waarheid nie? Wat van “Zuma = Hlaudi’s puppet”? Lyk vir my eerder die een hand was die ander – ‘n ongure kombinasie soos Zuma en Shaik destyds.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.